Nuus 16:00
BULLETIN 23 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Maatskaplike werker beveel ‘n opgeskorte vonnis aan vir Julius Malema
# Verbeterde weerstoestande maak gedeeltelike heropening van Krugerwildtuin moontlik
# En sokker: Real Madrid is steeds die wêreld se rykste klub
# ‘n Maatskaplike werker, Jessie Thomson, het ‘n opgeskorte vonnis eerder as tronkstraf aanbeveel vir die EFF-leier, Julius Malema, tydens sy voorvonnisverhoor in die Landdroshof in Oos-Londen. Thompson het in camera getuig en sy bydraes tot liefdadigheid uitgelig, insluitend ondersteuning vir bejaardes. Malema is skuldig bevind aan die afvuur van ‘n vuurwapen tydens die EFF se vyfde bestaansjaarvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap in 2018. Indien hy tot meer as 12-maande tronkstraf gevonnis word sonder die keuse van ‘n boete, kan hy sy parlementêre setel verloor.
# Die regsverteenwoordiger van oudpremier Ace Magashule se persoonlike assistent, Moroadi Cholata, verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak dat haar uitlewering onregmatig was. Sy is in 2024 uit Amerika uitgelewer nadat sy geweier het om ‘n staatsgetuie te word in die asbes-saak van 255-miljoen-rand wat met Magashule verbind word. Advokaat Piet Tibane sê sy begin Maandag met ‘n binneverhoor in die Hooggeregshof in Bloemfontein om ander sake aan te pak:
# SANParke sê besoeker-toegang tot dele van die Krugerwildtuin is moontlik danksy verbeterde weerstoestande in Limpopo en Mpumalanga. Dag- en oornagbesoekers word nou by die Punda Maria-hek, die Babalala-piekniekterrein en die Punda Maria-ruskamp toegelaat, terwyl verskeie ander hekke en kampe oop bly, insluitend Letaba, Pafuri en Orpen. JP Louw van SANParke waarsku besoekers om nie te probeer ry op paaie wat gesluit is nie:
# Die Chinese motorvervaardiger Chery het ‘n ooreenkoms bereik om Nissan se vervaardigingsbates in Rosslyn, Pretoria, oor te neem. Die Japannese vervaardiger sal egter voortgaan om sy voertuie in Suid-Afrika te verkoop. Nuwe produkvrystellings vir vanjaar sluit die Tekton en die Patrol in. Nissan is sedert 1961 bedrywig in Suid-Afrika. Die president van Nissan Afrika, Jordi Vila, sê die ooreenkoms beteken Chery SA gaan poste aanbied aan die meerderheid van Nissan se werknemers, sowat 900, met soortgelyke bepalings en voorwaardes.
# Sokker: Die Spaanse reuse Real Madrid is steeds die wêreld se rykste klub, met Liverpool wat die rykste in Engeland is. Volgens Deloitte se Money League-studie het Real in die 2024/25-seisoen 22,6-miljard-rand gemaak, hoewel hulle nie ‘n enkele groot trofee gewen het nie. Nog ‘n Spaanse klub, Barcelona, is tweede met 18,4-miljard-rand, gevolg deur Bayern München van Duitsland met 16,3-miljard-rand. Liverpool is vierde, gevolg deur die Franse klub Paris Saint-Germain, en die Engelse klubs Manchester City, Arsenal, Manchester United, Tottenham en Chelsea.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-144-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-931-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….