Nuus 16:00
BULLETIN 22 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA veroordeel minister Cachalia se erkenning dat die SAPD swak toegerus is teen bendegeweld
# President Cyril Ramaphosa stel Dinkie Portia Dube aan as die nuwe adjunk-Openbare Beskermer
# En krieket: Brook bly Engeland se witbalkaptein ondanks ‘n nagklub-debakel in Nieu-Seeland
# Die DA veroordeel die minister van Polisie, Firoz Cachalia, se erkenning dat die polisie nie toegerus is om bendegeweld en afpersing in die Wes- en die Oos-Kaap te bestry nie. Woordvoerder Lisa Schickerling sê gemeenskappe word geterroriseer, kinders beland in die spervuur en ondernemings word afgepers terwyl onderbefondsde en swak intelligensie-eenhede misdaadbestryding belemmer. Sy eis uitgebreide teenbende-eenhede, intelligensie-gedrewe operasies, getuiebeskerming en tussenprovinsiale koördinering om georganiseerde misdaad te vernietig:
# President Cyril Ramaphosa het advokaat Dinkie Portia Dube van 1 Februarie vir ‘n termyn van sewe jaar aangestel as die nuwe adjunk-Openbare Beskermer. Sy is tans direkteur-generaal van die Staatsdienskommissie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Dube het meer as 20 jaar ondervinding in die openbare sektor en het kennis van oorsig, klagtebestuur en ondersoeke:
# TLU SA verwelkom die aanstelling van sy hoofbestuurder, Bennie van Zyl, tot die nuutgestigte Bek-en-klouseer-bedryfskoördineringsraad wat die minister van Landbou, John Steenhuisen, gevorm het. Van Zyl sal bedryfsinsette lewer oor entstofverspreiding, naspeurbaarheid, bewegingsbeheer en bedryfs-gereedheid. Hy sê die aanstelling erken boere se praktiese werklikhede, en beklemtoon ‘n behoefte aan deursigtige kommunikasie, werkbare regulasies en samewerkende oplossings om bek-en-klouseer doeltreffend te bestuur.
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, sê die land sal nog nie by die Amerikaanse president, Donald Trump, se voorgestelde Vredesraad vir Gaza aansluit nie weens kommer oor die Russiese leier, Vladimir Putin, se moontlike deelname. Sy sê hulle sal nie een van die ondertekenaars wees tydens vandag se seremonie by die Wêreld-ekonomiese Forum in Davos, Switserland, nie. Cooper beskryf die raad as ‘n wettige verdrag wat breër kwessies as die aanvanklike fokus op die beëindiging van die oorlog tussen Israel en Hamas bevat.
# Krieket: Harry Brook besef hy is gelukkig om Engeland se witbal-kapteinskap te behou na ‘n onderonsie in ‘n Nieu-Seelandse nagklub ‘n paar maande gelede. Hy het om verskoning gevra en sê dit was ‘n verleentheid vir hom en die span. Brook sê hy sou aanvaar het as die kapteinskap van hom weggeneem is, maar hy is net bly hy kan steeds vir sy land speel. Engeland is tans in Sri Lanka vir drie eendagwedstryde en drie T20’s voor die T20-Wêreldbekertoernooi in daardie land en Indië op 7 Februarie begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-893-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-830-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….