Nuus 16:00
BULLETIN 21 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa identifiseer ‘n manier om elektrisiteitspryse te verlaag
# SANParke heropen die Krokodilbrug-hek in die Kruger-wildtuin
# En Kaapstad vra ondersteuners om vooruit te beplan vir die Stormers teen die Haaie en die SA20-eindstryd
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê sy span het ‘n oplossing geïdentifiseer om elektrisiteitskostes te verminder. Hy het op die Wêreld-ekonomiese Forum in Davos, Switserland, gesê steenkool beloop sowat 40-persent van elektrisiteitskoste. Ramokgopa is van mening die vermindering van steenkoolkoste kan pryse verlaag en verligting aan verbruikers bied ná verlede jaar se styging van 12,7-persent en dreigende verhogings vanjaar.
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het in die 2024/25-boekjaar meer as 3,7-miljard-rand bestee aan BBP- en statiese beskerming, baie meer as die 2,4-miljard-rand aan die Valke. Woordvoerder Alan Beesley sê geskatte besteding styg tot vier-miljard-rand in die volgende boekjaar, wat bewys uitvoerende hoofde se gemak is belangriker as misdaadbestryding. Hy sê ‘n salarisverhoging van 3,8-persent vir ministers en adjunkte beklemtoon die afsydigheid teenoor burgers se ontberinge:
# SANParke sê terwyl die gure weer in Limpopo en Mpumalanga bedaar, sal die Krugerwildtuin die Krokodilbrug-hek môre weer oopstel vir dagbesoekers. Woordvoerder JP Louw sê grondpaaie bly gesluit, die damwal verkeer nog in gevaar en die suidelike en noordelike dele van die wildtuin is steeds toe. Hy sê die Malelane-, die Numbi- en die Paul Kruger-hek bly oop met ‘n toegangs-kwotastelsel.
# Die Stad Kaapstad sê verkeers- en openbare veiligheidsdienste maak gereed vir ‘n besige sportnaweek. Die Stormers is Saterdag gasheer vir die Haaie op die Kaapstad-stadion, en die SA20-krieketeindstryd vind Sondag op Nuweland plaas. Metrorail-dienste na Nuweland sal beskikbaar wees om verkeersopeenhopings te verlig. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê paaie rondom die stadions mag dalk die hele naweek geraak word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-177-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-859-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê 129-duisend-377 kinders is gedurende die feestyd gemerk as deel van die Identikidz-program. Die program is daarop gemik om jong kinders veilig te hou op strande. Die jaarlikse kinderveiligheidsprojek het op 15 Desember begin en die afgelope Sondag geëindig. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die besigste strande wat aan die program deelgeneem het was die Strand, Muizenberg en Strandfontein:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….