Nuus 16:00
BULLETIN 20 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee mense sterf en drie is gewond in ‘n skietery voor die Landdroshof in Booysens
# ‘n Verslag oor die leerdervervoer-ongeluk in Vanderbijlpark word teen die einde van die week verwag
# En krieket: Die uitspeelwedstryde van die SA20 is bevestig
# Twee mense is vanmiddag dood en drie beseer in ‘n skietery voor die Landdroshof in Booysens, Johannesburg. Een van die oorlewendes is ‘n bekende prokureur wat vermoedelik ‘n berugte bendelid in die hof verteenwoordig het. Die polisie is op die toneel om die voorval te ondersoek. Owerhede het bevestig verdere besonderhede word verwag soos die ondersoek voortduur.
# ‘n Verslag oor die leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark waarin 12 leerders dood is, word teen die einde van die week verwag. Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, sê ondersoekbeamptes van die Padverkeersbestuurskorporasie ondersoek die voorval, wat plaasgevind het ondanks beloftes oor verhoogde patrollies en inspeksies van skoolvervoer-voertuie. Die Gautengse Onderwysdepartement het bevestig een van die slagoffers moet nog geïdentifiseer word. Sewe leerders is steeds in die hospitaal en een is reeds ontslaan.
# Die DA sê die dodelike massaskietery in Philippi-Oos, Kaapstad noodsaak hernude oproepe vir beslissende optrede teen afpersingsbendes. Die party glo die aanval, wat Saterdag agt lewens geëis het, kan moontlik verbind word aan afpersingsmisdaad en is bekommerd omdat skuldigbevindings uiters laag bly ondanks honderde inhegtenisnemings. Die DA-lid, Benedicta van Minnen, versoek die polisie om dringend op te tree om afpersingsnetwerke te vernietig en veiligheid in gemeenskappe te herstel:
# Die adjunkminister van Sport, Kuns en Kultuur, Peace Mabe, is in Lesotho vir ‘n vierdaagse bilaterale besoek om reëlings af te handel rondom die repatriasie van die oorskot van Suid-Afrikaners wat in slagtings in 1982 en ’85 gesterf het. Die afvaardiging sal terreine besoek, kranse lê en hoëvlakgesprekke voer. Mabe sê dis uiters belangrik vir gesinne om afsluiting te kry en om samewerking rondom kultuur en erfenis te versterk:
# Krieket: Die tafel is gedek vir die SA20 se uitspeelrondes. Die eerste-geplaasde Sunrisers Eastern Cape gaan môre sake uitspook teen die tweede-geplaasde Pretoria Capitals in die eerste kwalifiseerder in Durban. Paarl Royals, wat derde is, kom Donderdag in Centurion teen Joburg Super Kings te staan in die uitskakelstryd. Die verloorder van die eerste kwalifiseerder en die wenner van die uitskakelstryd ontmoet Vrydag op die Wanderers in die tweede kwalifiseerder. Sondag se eindstryd op Nuweland in Kaapstad is tussen die wenners van môre en Vrydag se wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-971-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-729-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….