Nuus 16:00
BULLETIN 13 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Platreef-myn in Suid-Afrika bereik ‘n belangrike mylpaal
# OUTA vra gevolge ná jare van tendermislukkings met rybewyskaarte
# En krieket: Australië se vrouekaptein Alyssa Healy tree uit
# Een van die wêreld se grootste platinummyne, die Platreef-projek in Limpopo, het sy eerste platinum vervaardig en begin om bedrywighede te verhoog tot ‘n beplande vyf-miljoen ton per jaar. Die uitvoerende medevoorsitter van Ivanhoe Mines, wat Platreef besit, Robert Friedland, sê dit gebeur in ‘n tyd waar lande reg oor die wêreld platinum, palladium, rodium, koper en nikkel as strategiese minerale erken. Ses-en-twintig-persent van die myn word deur ‘n swart ekonomiese bemagtigingstruktuur besit, wat 150-duisend plaaslike inwoners verteenwoordig.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê daar moet gevolge wees vir amptenare wat verantwoordelik is vir jare se mislukkings met die tenderproses vir rybewyskaarte. Die organisasie het ‘n besluit deur die Hooggeregshof in Pretoria verwelkom om die kontrak wat aan die Franse firma IDEMIA toegeken is, tersyde te stel, aangesien ernstige onreëlmatighede die proses vertroebel het. Stefanie Fick van OUTA waarsku sonder aanspreeklikheid sal die risiko van wangedrag voortduur en openbare vertroue sal verder afneem:
# AfriForum sê 2025 se matriekslaagsyfer skep ‘n vals beeld van die onderwysstelsel in Suid-Afrika, aangesien talle leerders nooit graad 12 bereik nie. Die organisasie sê uit ongeveer 1,2-miljoen leerders wat in 2014 in Graad 1 was, het slegs sowat 778-duisend tot matriek gevorder. Carien Bloem van AfriForum sê dit weerspieël ‘n langtermyn-mislukking. Sy vra die Departement van Basiese Onderwys om te fokus op vroeë opvoeding, skoolrehabilitasie en eksamen-integriteit:
# Die Verenigde Nasies se Hoëkommissaris vir Menseregte, Volker Turk, sê hy is diep geskok deur die Iranse veiligheidsmagte se toenemende geweld teen vreedsame betogers. Die VN se eie bronne dui aan honderde mense is tot dusver dood. Die Islamitiese Republiek se geestelike owerhede worstel met die grootste versetoptredes sedert 2022 en ‘n menseregtegroep sê die onrus het reeds meer as 500 lewens geëis. ‘n Iranse amptenaar het egter ‘n hoër syfer van ongeveer twee-duisend aangedui. Turk is ook bekommerd dat duisende betogers in aanhouding tereggestel kan word.
# Krieket: Die Australiese vrouekaptein, Alyssa Healy, gaan uittree na die tuisreeks teen Indië wat in Maart eindig. Die 35-jarige paaltjiewagter het Australië sedert 2011 in byna 300 wedstryde verteenwoordig, meer as sewe-duisend lopies aangeteken en 275 vangkanse benut. Healy sê sy is steeds passievol om vir haar land te speel, maar het die mededingendheid verloor wat haar gedrewe gehou het. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, beskryf haar as een van die spel se allerbeste spelers wat ‘n onmeetbare bydrae op en van die veld gelewer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-817-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-583-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….