Nuus 16:00
BULLETIN 12 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum beloof om eiendomsregte te verdedig te midde van Fikile Mbalula se onteieningsplanne
# SANParke waarsku oor die stygende riviervlakke in die Krugerwildtuin
# En motorsport: Nasser Al-Attiyah herwin die algehele voorsprong ná Lategan se terugslag in die sewende skof van die Dakar
# AfriForum het beloof om privaat eiendomsregte te verdedig ná die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, beloof het om grondonteiening sonder vergoeding te bevorder. Mbalula het tydens die ANC se 114de bestaansherdenking in Mogwase, Noordwes, ook die voorneme bevestig om die Reserwebank te nasionaliseer. Ernst van Zyl van AfriForum sê die organisasie sal in Maart die Onteieningswet in die Wes-Kaapse Hooggeregshof betwis en veldtogte voortsit wat die grondwetlike belangrikheid van eiendomsregte beklemtoon:
# ActionSA sê ministers in die regering van nasionale eenheid het in die eerste 18 maande van hul termyn byna 450-miljoen-rand aan reis- en verblyfkoste bestee. Die party sê hierdie bedrag sal tot 500-miljoen-rand styg namate uitstaande parlementêre antwoorde gefinaliseer word. Alan Beesley van ActionSA sê die syfers is verkry uit die party se prestasiestelsel vir die regering van nasionale eenheid en gebaseer op antwoorde op parlementêre vrae. Hy sê dit skets ‘n verdoemende prentjie van uitvoerende magsmisbruik:
# SANParke het ‘n nuwe waarskuwing uitgereik oor gure weerstoestande in dele van Limpopo en Mpumalanga, insluitend die Krugerwildtuin. JP Louw van SANParke sê die Krokodilrivier se stygende vlak bedreig toegang tot die Laer Sabie- en die Krokodilbrug-ruskamp. Hy sê verskeie hekke en paaie bly gesluit, terwyl gaste versoek word om veiligheidsvereistes na te kom. SANParke monitor deurentyd die toestande.
Nuus uit die buiteland:
# Die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, Jerome Powell, veroordeel die Departement van Justisie se jongste strafregtelike aanklag, wat verband hou met sy getuienis voor die Senaat se Bank-komitee verlede Junie. Die getuienis het deels betrekking gehad op ‘n meerjarige projek om geskiedkundige Federale Reserweraad-kantoorgeboue op te knap. Powell sê hierdie ongekende optrede moet in die breër omvang van die Trump-administrasie se dreigemente en voortdurende druk gesien word:
# Motorsport: Nasser Al-Attiyah het die algehele voorsprong in die Dakar-tydren in Saoedi-Arabië herwin nadat die Suid-Afrikaners Henk Lategan en Brett Cummings se Overdrive Toyota Hilux demperprobleme opgedoen het oor die laaste 50-kilometer van skof sewe. Die Duitsers Mattias Ekström en Emil Bergkvist het die skof gewen. Vandag se agste skof behels die langste spesiale afstand van 481-kilometer om Wadi ad-Dawasir, met 65 uit 72 motors wat steeds meeding. Die tweede week van die tydren beloof intense woestyn-mededinging.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-698-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-580-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….