Nuus 16:00
BULLETIN 21 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie betwis Paul O’Sullivan se bewering oor ‘n verwysing in die Dumisani-saak
# Navorsing toon klimaatskokke bedreig Suid-Afrika se voedselondernemings
# En sokker: UEFA se president het die Wêreldbeker-eindstryd geboikot oor FIFA se omstrede besluite
# Die Madlanga-kommissie het teenstrydige getuienis aangehoor oor wie die saak teen die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, verwys het na die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie. Kommissaris Sandile Khumalo sê die ondersoeker Paul O’Sullivan beweer hy het die saak in November saam met die Ministerie van Polisie verwys. Die direktoraat se hoof, Andrea Johnson, het bevestig daar was skriftelike kommunikasie van die ministerie, maar sy onthou nie O’Sullivan se betrokkenheid nie:
# Suid-Afrika het ‘n lening van 24,78-miljard-rand van die Wêreldbank bekom om hervormings in die land se water-, elektrisiteits- en vragvervoersektor te ondersteun. Dit sal gebruik word om waterinfrastruktuur te versterk, groter beleggings vanuit die privaat sektor aan te moedig en dienslewering aan miljoene huishoudings te verbeter. Dit sal ook ‘n mededingende elektrisiteitsmark ondersteun, en hervormings in die spoor- en hawesektor. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die program sal struikelblokke vir infrastruktuurontwikkeling verminder. Die hervormings sal na verwagting teen 2032 bykans 600-duisend werksgeleenthede help skep.
# ‘n Studie het bevind klimaatskokke plaas toenemend druk op die landbouverwerkingsektor, wat voedselsekerheid, werkgeleenthede en ekonomiese groei bedreig. ‘n Groep akademiese navorsers sê ondernemings sukkel met watertekorte, stygende temperature en ontwrigte voorraad van grondstowwe. Waterbesparings- en energie-doeltreffende maatreëls is ingestel, maar baie is sonder befondsing en tegniese ondersteuning. Die studie vra klimaatgefokusde opleiding, verbeterde infrastruktuur en groter finansiële bystand om voedselverwerkers te help om aan te pas by verslegtende klimaatstoestande en die land se voedselstelsel te versterk.
# Sokker: ‘n Stryd dreig tussen die wêreldbeheerliggaam FIFA en die Europese liggaam UEFA oor sekere besluite tydens die Wêreldbeker-toernooi. UEFA se president, Aleksander Ceferin, het bevestig dis hoekom hy geweier het om Sondag se eindstryd by te woon. UEFA is ontsteld oor FIFA se besluit om die Amerikaanse voorspeler Folarin Balogun se skorsing van een wedstryd op te skort ná sy rooikaart, wat Europa beskou as ‘n growwe ongerymdheid. Die Somaliese skeidsregter Omar Artin kon ook nie blaas nie omdat hy toegang tot Amerika geweier is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-397-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-57-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Departement van Gesondheid sê openbare hospitale het reeds 687 operasies en kliniese prosedures afgehandel en daarmee die helfte van die een-duisend-326 prosedures verbygesteek wat in vanjaar se program beloof is. Die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal is die voorste instelling in vanjaar se Mandela-maand Chirurgie-marathon en het tot dusver 156 prosedures afgehandel. Woordvoerder Steve Mabona sê deelnemende hospitale maak uitstekende vordering sedert die veldtog begin het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….