Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Menseregtekommissie verklaar die watertekorte in eThekwini as menseregteskendings
# Vryheidspark sê Madiba se beeld moet as nasionale erfenis hanteer word
# En, rugby: Die Blitsbokke is goed voorbereid om terug te slaan in Perth
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het watertekorte in eThekwini in KwaZulu-Natal as menseregteskendings verklaar. Dit volg ná betogings in Verulam en Phoenix. Inwoners noem verouderde infrastruktuur, onvoldoende begroting en ‘n gebrek aan deursigtigheid van die munisipaliteit as bydraers tot die waterprobleme. Die kommissie sê hoewel daar in die korttermyn aandag gegee kan word aan sekere kwessies, is langtermyn-beplanning noodsaaklik om die probleme op te los. Die munisipaliteit en uMngeni-uThukela Water sal nou twee keer per week met die kommissie vergader tot ‘n ooreenkoms bereik is.
# Die Vryheidspark in Pretoria pleit oudpresident Nelson Mandela moet as deel van die nasionale erfenis beskou word. Sommige van Mandela se familielede beplan om volgende maand sy besittings, insluitend sy identiteitsdokument, hemde en kierie, te laat opveil. Mandela se dogter, Makaziwe, sê die opbrengs van die veiling sal ‘n gedenktuin in die Oos-Kaap befonds. Bheki Langa van die Vryheidspark het egter aan eNCA gesê Madiba se beeld behoort aan die mense:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur-generaal, Tedros Ghebreyesus, herhaal ‘n oproep vir lande om die organisasie se pandemie-verdrag te onderteken om die potensiële bedreiging van Siekte X te kan pak. Dit is ‘n onbekende aansteeklike siekte wat ‘n ernstige epidemie of pandemie kan veroorsaak. Die verdrag, wat die eerste keer in Maart 2021 voorgestel is, het ten doel om ‘n globale benadering te bevorder om vermoëns en veerkragtigheid teen toekomstige pandemies te versterk. ‘n Konsep daarvan is in Oktober 2023 vrygestel. Ghebreyesus beklemtoon Covid-19 was die eerste siekte X.
# Rugby: Die Blitsbokke sal hierdie naweek probeer terugslaan in die wêreldreekstoernooi in Perth, Australië, ná ‘n teleurstellende vertoning in Kaapstad, waar hulle in die sesde plek geëindig het. Die Springbok-sewes se manne pak Spanje en Kanada môre in hulle groepswedstryde en sal Saterdagoggend die reeksleier, Argentinië, aandurf. Die Blitsbokke se kaptein, Selvyn Davids, sê hulle is goed voorbereid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-en-60-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-16-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-82-sent per vat.
# Ten slotte: Saoedi-Arabië beplan om ‘n winkel in Riyadh te open wat drank aan ʼn uitverkose groep nie-Moslem buitelanders sal verkoop. Dit sal die eerste winkel van dié aard wees in meer as 70 jaar. Die kliënte sal beperk word tot diplomatieke personeel wat reeds vir jare alkohol invoer in verseëlde amptelike pakkies bekend as diplomatieke sakke. Saoedi-beamptes sê die winkel sal die onwettige handel in alkohol teenwerk. Volgens die BBC is die drankverbod sedert 1952 van krag, nadat een van koning Abdulaziz se seuns ‘n Britse diplomaat in sy dronkenskap doodgeskiet het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….