Nuus 16:00
BULLETIN 30 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verleen goedkeuring vir die verlenging van die geldigheid van rybewyse tot tien jaar
# Die Amerikaanse Weermag sê hy het verskeie teikens in Iran getref
# En rugby: Die All Blacks nooi plaaslike ondersteuners om hulle môre in Kaapstad te ontmoet
# Die kabinet het goekeuring verleen dat die geldigheid van rybewyse vir ligte motorvoertuie van vyf na tien jaar verleng word. Die verandering is van toepassing op lisensiekodes A, A1, B en EB, terwyl swaar vrag- en openbare vervoervoertuie steeds aan die bestaande vereistes moet voldoen. Permitte vir beroepsbestuurders sal ook steeds vir twee jaar geldig wees. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die verandering stem ooreen met internasionale gebruike:
# ‘n Advokaat van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Druishanta Ramsamy, het aan die Madlanga-kommissie gesê swak interne beheer maak dit maklik om strafsaak-dossiere te manipuleer. Sy beweer die voormalige hoof, Andrea Johnson, en hoof-ondersoeker Dylan Perumal het die stelsel gemanipuleer. Ramsamy sê vervolgings-geleide ondersoeke kan hoogs doeltreffend wees, maar slegs as dit gesteun word deur sterk oorsig- en toerekenbaarheids-meganismes:
# Die DA in die Wes-Kaap het kommer uitgespreek nadat 67 voorvalle van diefstal en opsetlike beskadiging die afgelope wintervakansie by 57 skole aangemeld is. Die geraamde skade beloop meer as 2,1-miljoen-rand. Die provinsiale Onderwysdepartement sê die skoolvoedingsprogram se kombuise, rekenaarkamers, elektriese infrastruktuur, veiligheidstoerusting, geskenkte skoolskoene en selfs groente uit skole se groentetuine is gesteel of verwoes. Peter Johnson van die DA sê skole het misdadigers se teikens geword:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag sê hy het talle teikens van die Islamitiese Revolusionêre Magte in Iran getref, insluitend militêre bevelsentrums en hommeltuig-aanlegte. Dit volg nadat Teheran ballistiese missiele op Amerikaanse magte in die Midde-Ooste afgevuur het. Die Amerikaanse Sentrale Bevel sê die aanvalle was daarop gemik om Iran en sy bondgenote se bedreiging vir Amerikaanse magte, handelskeepsvaart en buurlande in die Golfstreek verder te verswak. Jordanië se gewapende magte sê hul het ‘n Iranse poging verhinder om die koninkryk te teiken en vyf missiele onderskep.
# Rugby: Plaaslike All Black-ondersteuners kry môremiddag in Kaapstad die geleentheid om hulle helde in Suid-Afrika te verwelkom. Die byeenkoms vind op die Kaapstad-stadion plaas waar Nieu-Seeland se toer volgende Vrydag teen die Stormers begin. Die besoekers het op sosiale media aangedui hulle sal hulle menings met aanhangers deel, saam met baie musiek en gesinsvriendelike vermaak. ‘n Groot aantal ondersteuners word verwag, want die span geniet al lank reeds ‘n unieke aanhang in die Moederstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-81-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….