Nuus 16:00
BULLETIN 15 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie erken die uitdagings tydens verlede jaar se algemene verkiesing
# Rugby: Jasper Wiese word vir vier wedstryde geskors na sy rooikaart teen Italië
# En die wêreld se oudste marathon-atleet sterf in ‘n tref-en-trapongeluk op 114
# Die Verkiesingskommissie het bevestig byna 90-miljoen stembriewe is binne ‘n maand gedruk vir 2024 se verkiesing en na meer as 23-duisend bestemmings versprei. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo het aan die Parlement se portefeuljekomitee vir Binnelandse Sake gesê meer as 200-duisend personeellede het die bedrywighede ondersteun. Belangrike prestasies sluit in die onmiddellike verslagdoening oor uitslae, kommunikasieveldtogte, pogings teen waninligting en verbeterde toeganklikheid vir siggestremde kiesers. Mamabolo erken egter die uitdagings met mannekrag en logistiek op so ‘n reuse-skaal:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte sê alle plaaslik-beskikbare kankermedisyne voldoen aan die vereiste gehalte-, veiligheids- en doeltreffendheidstandaarde. Dit volg nadat Lancet se internasionale gesondheids-opname swak gehalte teen-kankermiddels in lande soos Ethiopië, Kenia, Malawi en Kameroen geïdentifiseer het. Die owerheid se woordvoerder, Yuven Gounden, bevestig die spesifieke handelsmerke in die studie word nie in Suid-Afrika geregistreer of verkoop nie:
Nou nuus uit die buiteland:
# President Xi Jinping van China het senior Russiese diplomate tydens besprekings by die Shanghaise Samewerkingsorganisasie meegedeel dat hulle lande wedersydse ondersteuning moet versterk. Beijing probeer al lankal om die organisasie as ‘n teenwig vir Westers-geleide magsgroeperinge soos NAVO te bevorder en het gepleit vir groter samewerking tussen die 10 lede. Senior diplomate van die groepering het in Beijing bymekaar gekom vir ‘n vergadering van die Raad van ministers van Buitelandse Sake, insluitend Sergei Lavrov van Rusland, Subrahmanyam Jaishankar van Indië en Abbas Araghchi van Iran.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Jasper Wiese is vir vier wedstryde geskors na sy rooikaart tydens verlede naweek se toets teen Italië in Gqeberha. Hy sal dus Suid-Afrika se volgende wedstryd teen Georgië misloop, asook die eerste drie kragmetings van die Rugbykampioenskap – in Johannesburg en Kaapstad teen Australië, en teen die All Blacks in Auckland. Wiese sal eers weer op 13 September beskikbaar wees wanneer die Bokke in Wellington teen Nieu-Seeland speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-187-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die wêreld se oudste marathonatleet, die 114-jarige Fauja Singh van Indië, is in ‘n tref-en-trap ongeluk dood. Hy het ‘n dekade gelede na sy 100ste verjaardag steeds deelgeneem. Singh is in 1911 op die Indiese platteland gebore en het later na Londen verhuis, waar hy bekendheid verwerf het as Die Tulban-tornado. Hy het eers in sy laat 80s begin hardloop en nege marathons voltooi. Singh word as die oudste marathonatleet beskou maar dit is nooit as ‘n Guinness-wêreldrekord erken nie omdat hy nie ‘n geboortesertifikaat gehad het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….