Nuus 16:00
BULLETIN 5 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola vra ‘n opbouende VN-Veiligheidsraadsvergadering oor Venezuela
# Die saak teen vyf verdagtes in die Bekkersdal-massaskietery is uitgestel
# En sokker: CAF se president beklemtoon verhoogde prysgeld en sokkerontwikkeling
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika verwag vandag ‘n opbouende vergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad na Amerika se gevangeneming van Venezuela se president, Nicolás Maduro, en sy vrou, Cilia Flores. Hulle word aangehou in die Metropolitaanse aanhoudingsentrum in New York en sal na verwagting vandag in die hof veskyn. Lamola sê die stap is onwettig, en Amerika bly onvoorspelbaar:
Die ANC-Jeugliga sê intussen hulle sal die jeug en progressiewe magte mobiliseer om na die Amerikaanse ambassade in Pretoria op te ruk teen die skending van Venezuela se soewereiniteit. Die liga sê hierdie blatante gebruik van geweld, uitgevoer sonder internasionale mandaat of toestemming, is niks minder as imperialistiese aggressie nie. Hulle het onwrikbare solidariteit uitgespreek met die regering en mense van Venezuela.
# Die saak teen vyf verdagtes in verband met die massaskietery in die Bekkersdal-taverne in Gauteng is uitgestel omdat daar nie ‘n uitkenningsparade was nie. Die mans het in die Landdroshof in Westonaria verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die hof het gehoor getuies was nie beskikbaar nie. Die saak is uitgestel tot 22 Januarie vir verdere ondersoek.
# Sokker: Die president van die Afrika-sokkerfederasie, Patrice Motsepe, het planne aangekondig om die prysgeld vir die Kampioeneliga en die Konfederasiebeker-toernooi te verhoog. Bedrae sal na die huidige Afrikabekertoernooi bevestig word. Motsepe het in Marokko teenoor SABC News beklemtoon CAF se skuld van 2,4-miljard rand is gedelg. Hy beklemtoon dat aansporings, ontwikkelingsprogramme en etiese bestuur sal verseker dat die spel op die vasteland sal groei en spelers en ondersteuners inspireer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-131-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-417-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: Lede van die Rethink Your Drink-veldtog sê die toename in drankverwante opnames in hospitale tydens die feestyd is kommerwekkend. Kashifa Ancer van die veldtog sê dit het ernstige druk op die aantal beddens, personeel en kritieke sorg geplaas, en het ander pasiënte se sorg in die reeds oorbelaste stelsel vertraag. Sy sê terwyl feestelike handel winste verhoog, is daar elke jaar opsigtelike skade in noodafdelings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….