Nuus 16:00
BULLETIN 19 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke ondersoek steeds die dood van drie Simonstadse Vloot-offisiere
# Die N1 in Limpopo is gesluit ná ‘n tenkwa-ongeluk
# En die Verenigde Rugbykampioenskap hervat hierdie naweek met verskeie plaaslike derbies
# Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sê die Valke ondersoek steeds die dood van drie offisiere van die Vlootbasis Simonstad in Kaapstad in 2023. Hulle is van die dek van die duikboot Manthatisi afgespoel tydens die voorval waarin ‘n senior offisier ernstig beseer is. Cachalia sê ‘n vertroulike verslag dui op moontlike nalatigheid deur die Suid-Afrikaanse Vloot en die kaptein aan diens, maar geen verdagtes is geïdentifiseer nie.
# Die N1 tussen Mookgophong en Mokopane in Limpopo is gesluit ná ‘n tenkwa wat gevaarlike goedere vervoer, omgeslaan het. Matome Taueatsoala van provinsiale Vervoer sê suidwaartse verkeer word via Mookgophong herlei aangesien die afrit na Y-Press gesluit is, terwyl noordwaartse voertuie herlei word na die R101 deur die Zebediela Plaza na Mokopane. Hy vra motoriste om die ompad-aanwysers te gehoorsaam en versigtig te bestuur terwyl noodspanne die toneel bestuur:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, bepleit verhoogde waaksaamheid aangesien bo-normale reënval en donderstorms in die feestyd verwag word. Sy woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê sentrale en oostelike streke kan oorstromings, weerlig en sterk wind verwag. Mense word aangeraai om die jongste inligting dop te hou, oorstroomde gebiede te vermy, hul eiendom te beveilig, binnenshuis te bly en noodgevalle aan te meld. Sy sê rampbestuursentrums staan gereed:
# Die Wes-Kaapse Departement Gesondheid vra ouers weer om hul kinders te laat inent te midde van toenemende gevalle van masels en ‘n uitbreking van witseerkeel. Woordvoerder Monique Johnstone sê ‘n geteikende veldtog is aan die gang in Khayelitsha, Mfuleni en Dunoon in Kaapstad, en in Citrusdal. Johnstone sê klinieke sal oor die feesgety oop bly. Sy vra ouers en voogde om te verseker dat alle kinders volledig ingeënt is voor vakansiereise en byeenkomste.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat die naweek na drie weke, met verskeie plaaslike derbies wat plaasvind. Die Stormers, wat tans bo-aan die punteleer is, speel môremiddag 3.30 in Kaapstad teen die sewende- geplaasde Leeus, en sesuur ontmoet die 14de-geplaasde Haaie die agtste-geplaasde Bulle in Durban. Die Walliese spanne Cardiff en Scarlets skop die aksie vanaand in die Walliese hoofstad af, terwyl die Ierse spanne Leinster en Ulster mekaar die stryd aansê op die Aviva-stadion in Dublin. Vier ander wedstryde vind ook môre plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-201-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-324-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….