Nuus 16:00
BULLETIN 15 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie vra G20-lede om hul menings te lug oor Amerika se standpunt teenoor Suid-Afrika
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem ná die moord op ‘n skoolhoof van Tembisa
# En krieket: Die Protea-vroue kan môre die eendagreeks teen Ierland beklink
# Die Presidensie sê Suid-Afrika het ander G20-lede gevra om hul menings te lug en Amerika se standpunt oor Suid-Afrika se deelname te verwerp. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Suid-Afrika benodig nie uitnodigings na vergaderings nie. Hy sê Suid-Afrika betrek ander G20-lede om eenstemmige prosesse te handhaaf, terwyl daar voortgegaan word om kwessies van die leiersberaad in Johannesburg te bevorder. Magwenya bevestig ook kommunikasie met G7-lande:
# ‘n Vyftigjarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n skoolhoof van Tembisa in Gauteng. Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê beamptes het leidrade opgevolg en die verdagte is by sy huis aangekeer. Sy sê nog inhegtenisnemings kan volg terwyl die ondersoek voortduur:
# ‘n Toestel-neutrale huishoudelike heffing blyk die voorkeurvervanger te wees vir SABC TV se huidige lisensieplan. Dit volg na lisensie-wanbetalings tot 85-persent gestyg het, van 69-persent in 2019, wat die SABC se finansies vererger het. Die Departement van Kommunikasie het BMI TechKnowledge aangestel om ‘n volhoubare befondsingsmodel te ontwikkel, wat teen 6 Februarie afgehandel moet wees. Die uitsaaier se uitvoerende hoof, Nomsa Chabeli, en raadsvoorsitter Khathutshelo Ramukumba het onlangs erken die huidige plan is verouderd en onvolhoubaar en ondersteun ‘n universele heffing wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingesamel word.
# Die onderwysersvakbond, Sadou, se nasionale uitvoerende komitee sê die uitlek van matriekvraestelle behoort nie die integriteit van die hele Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in gedrang te bring nie. Die Departement van Basiese Onderwys het bevestig 26 leerders by sewe skole in Pretoria was hierby betrokke. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê kwessies soos leerders wat sukkel met eksamenspanning en -angstigheid, kan tot oortredings in eksamenlokale lei:
# Krieket: Die Protea-vroue kan môre in Gqeberha die eendagreeks teen Ierland beklink nadat hulle Saterdag die eerste wedstryd in Oos-Londen gewen het. Suné Luus en Miané Smit het Suid-Afrika se aanslag gelei met onoorwonne tellings van onderskeidelik 66 en 56 nadat Nonkululeko Mblaba drie paaltjies laat kantel het. Ierland is beperk tot 209 vir sewe en die Proteas het die wenteiken bereik met slegs drie paaltjies plat en meer as tien boulbeurte oor. Die laaste eendagwedstryd word Vrydag in Johannesburg gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-637-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-343-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….