Nuus 16:00
BULLETIN 12 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lugrederye kan swaar boetes verwag nadat 30 vermeende mensehandel-slagoffers op OR Tambo onderskep is
# ‘n Teenkorrupsie-ontleder sê die raadgewende paneel het ‘n beduidende besluit in die finale verwysing van die NVG-hoof
# En rieket: Kaartjies vir die T20-Wêreldbekertoernooi is goedkoper as ooit
# Die Grensbestuursowerheid sê Ethiopian Airlines en ‘n ander lugredery gaan met 15-duisend-rand per reisiger beboet word nadat 30 ongedokumenteerde passasiers op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng onderskep is. Veertien Ethiopiërs en 16 Bangladesjis is voorgekeer en amptenare vermoed mensehandel. Woordvoerder Mmemme Mogotsi het aan SABC News gesê alle reisigers sal gedeporteer word. Sy vra lugrederye om dokumentbeheer te versterk te midde van verhoogde sekerheid tydens die feestyd:
# ‘n Raadslid van die Universiteit Stellenbosch se teenkorrupsie-eenheid, Koogan Pillay, sê die raadgewende paneel het ‘n beduidende en veeleisende verantwoordelikheid met die keuse van die volgende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Die paneel het sy onderhoude met die ses kandidate op die kortlys voltooi, en sal vandag sy finale verslag aan president Cyril Ramaphosa voorlê. Pillay het teenoor SABC News beklemtoon hoe belangrik die posisie in Suid-Afrika se regswese is:
# COSATU verwelkom die ANC se Nasionale Algemene Raad se onderskrywing van sy beroep vir ‘n dringende Politieke Alliansie-raad om interne uitdagings aan te pak en voor te berei vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Woordvoerder Matthew Parks beklemtoon die alliansie, wat ook die ANC, die SAKP en die burgerlike organisasie SANCO insluit, is noodsaaklik vir politieke en ekonomiese bevryding. Hy versoek vennote om eenheid eerste te stel voor die verkiesing:
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor sê sy e-Geregistreerde Boodskapstelsel kan wettig gebruik word om verkeersboetes af te lewer. Hy sê dit het dieselfde status as geregistreerde pos. Die sakereddingspraktisyn, Anoosh Rooplal, sê die gebruik daarvan hang af van goedkeuring ingevolge die Wet op Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe, wat elektroniese kennisgewings toelaat, maar steeds finale regsgoedkeuring benodig. Die diens bied veilige aflewering met bewys van ontvangs en sal na verwagting wyer in die openbare sektor geruik word namate die Poskantoor met digitale hervorming begin.
# Krieket: Die prys van die goedkoopste kaartjies vir volgende jaar se T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka is die laagste ooit om toeganklikheid te verhoog. Kaartjieverkope het vandag geopen en die goedkoopstes verkoop vir sowat 18-rand-70-sent elk. Wedstryde word op agt stadions gespeel vanaf 7 Februarie tot 8 Maart. Pakistan en Nederland skop die toernooi af in Colombo en Suid-Afrika se eerste wedstryd is die negende teen Kanada. Meer as twee-miljoen kaartjies is vir die 55 wedstryde beskikbaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-263-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….