Nuus 16:00
BULLETIN 11 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SOE voer klopjagte uit in Gauteng en KwaZulu-Natal oor Covid-19 TERS-bedrog van 161-miljoen-rand
# Advokaat Khanyile sê seksuele oortredings en die gryslys sal voorrang geniet indien sy aangestel word as Batohi se opvolger
# En rugby: Japan steun Jones as afrigter tot die Wêreldbekertoernooi in 2027
# Die Spesiale Ondersoekeenheid voer klopjagte uit in Gauteng en KwaZulu-Natal, gemik op ‘n sindikaat wat beskuldig word van die diefstal van 161-miljoen-rand se Covid-19 TERS-fondse. Woordvoerder Kaizer Kganyago sê 16 ondernemings en 35 persone word verdink van die verskaffing van vals inligting en die skep van spook-werkers. Hy bevestig wonings en die Werkloosheidsversekeringsfonds in Pretoria se hoofkantoor is deursoek vir bewyse om die omvang van die bedrog te bepaal:
# Advokaat Xolisile Khanyile sê indien sy aangewys word om Shamila Batoyi op te volg as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, sal sy voorrang gee aan seksuele oortredings, die voorkoming om terug te keer na die Finansiële Aksietaakmag se gryslys, en die versterking van sentrums om georganiseerde misdaad te beveg. Khanyile het tydens haar onderhoud ook die behoefte geklemtoon om die land se nasionale risikobepaling te hersien:
# Solidariteit vra kritieke onderhandelings oor ‘n Eskom-kragtarief om Suid-Afrika se ferrochroombedryf aan die lewe te hou. Die adjunk-hoofsekretaris, Willie Venter, sê Eskom se nuwe ooreenkoms met Samancor Chrome in Sandton, Johannesburg, en die Glencore-Merafe Chrome Venture in Rustenburg, Noordwes, moet nou alle belanghebbendes insluit om ‘n volhoubare kragtarief te verseker. Hy beklemtoon ‘n gebalanseerde tarief kan die smelters laat herleef, werkgeleenthede skep en stroomaf nywerhede bevoordeel. Venter vra ook dringende regstellings by Transnet, beperkings op goedkoop invoere en verbeterde handelsooreenkomste.
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika in die Wes-Kaap het veiligheidsmaatreëls op stasies en treine opgeskerp vir die feestyd van 15 Desember tot 11 Januarie, om veilige, betroubare reise vir pendelaars en vakansiegangers te verseker. Voldagdienste sal op Sondae en openbare vakansiedae bedryf word. Metrorail se provinsiale woordvoerder, Zino Mihi, sê moderne treine met verbeterde veiligheidsmaatreëls bied gemoedsrus:
# Rugby: Eddie Jones sal Japan tot ná 2027 se Wêreldbekertoernooi afrig. Dit volg op ‘n prestasie-oorsig na ‘n seisoen met gemengde welslae, met oorwinnings oor Wallis en Georgië en nederlae teen Suid-Afrika, Wallis en Ierland. Die voorsitter van Japan se beheerliggaam, Kensuke Iwabuchi, sê hulle het besluit om die 65-jarige Australiër te steun sodat hulle met vertroue vir die Wêreldbeker kan voorberei. Japan speel in Groep E teen Frankryk, Samoa en Amerika in die toernooi in Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-208-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-215-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….