Nuus 16:00
BULLETIN 4 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Menseregtekommissie bevind die polisie het onregmatige geweld gebruik tydens die studentebetoging by die Walter Sisulu Universiteit
# ‘n Onderwysaktivis bevraagteken die NSFAS-beurs aan ‘n 70-jarige student
# En krieket: Root en Starc skitter op die eerste dag van die tweede toets om die As op die Gabba
# Die Menseregtekommissie het bevind die polisie het onregmatig opgetree tydens verlede jaar se studentebetoging by die Walter Sisulu Universiteit in Mthatha in die Oos-Kaap. Dit volg op die dood van ‘n student, Sisonke Mbolekwa. Die koshuisbestuurder Manelisi Mampane staan tans tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Die verslag het polisie-optrede en aanbevelings uiteengesit om aanspreeklikheid en versetbestuur te verbeter. Kommissaris Tshepo Madlingozi het opgemerk grondwetlike beskerming word nie verwyder tydens geïsoleerde onregmatige studentedade nie:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om te verduidelik hoe hy die beginsels van lewenslange leer balanseer met die maatskaplik-ekonomiese noodsaaklikheid om die jeug te ondersteun. Die skema word gekritiseer omdat hy ʼn beurs aan ʼn 70-jarige student toegestaan het. Altesaam 612 mense wat by die skema aansoek gedoen het vir finansiële hulp in 2026, is 50 jaar en ouer. Makaneta sê die land skuld jong skoolverlaters alle beskikbare befondsingsgeleenthede:
# Moslem- en Christen-organisasies het die Parlement versoek om godsdiensregte te beskerm in die voorgestelde Wetsontwerp op Huwelike. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Islamitiese Forum het deur middel van aanlyn voorleggings aan die portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake gesê klousules verhoed huweliks-bevestigers van Binnelandse Sake om sekere huwelike te bevestig en dit skend godsdiensvryheid. Voorspraakgroepe, insluitend die Regsentrum vir Vroue, is ook bekommerd en vra erkenning van gemenereg-paartjies. Die komitee se voorsitter, Mosa Chabane, sê alle voorleggings sal die uiteindelike beraadslagings lei.
Nuus uit die buiteland:
# Hongkongse owerhede verwyder inderhaas maasnette op alle geboue wat opgeknap word reg oor die Chinese gebied, nadat substandaard-opknappingsmateriaal die skuld gekry het vir verlede week se brand in die Wang Fuk-gebou waarin minstens 159 mense dood is. Die regering het gelas alle steiernette op alle openbare en privaat woongeboue moet teen Saterdag verwyder wees om openbare veiligheid te beskerm en inwoners gerus te stel. Die polisie het altesaam 21 mense aangekeer in die ondersoek na die brand.
# Krieket: Die Engelse kolwer Joe Root het sy eerste honderdtal in ‘n toets om die As aangeteken op die eerste dag van die tweede wedstryd teen Australië in Brisbane. Engeland se eerste twee paaltjies het vinnig geval voordat Root en Zak Crawley ‘n derdepaaltjie-vennootskap van 117 lopies opgebou het. Root en Joffra Archer het later ‘n onoorwonne tiendepaaltjie-vennootskap van 61 gedeel. Engeland het met uitskeityd gestaan op 325 vir nege, met Root op 135 en Archer op 32. Mitchell Starc het ses paaltjies platgetrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen de dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-965-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-198-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….