Nuus 16:00
BULLETIN 3 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vermeende misdaadbaas Katiso ”KT” Molefe se moordsaak word na die Hooggeregshof oorgeplaas
# Nog geen deurbraak in vredegesprekke tussen Putin en Amerikaanse onderhandelaars nie
# En krieket: Van Niekerk kan ‘n terugkeer maak in die Protea-vroue se wedstryd teen Ierland
# Die vermeende ‘Groot Vyf’-kartelbaas Katiso “KT” Molefe se moordsaak is oorgeplaas na die Hooggeregshof in Johannesburg. Hy en drie medebeskuldigdes het kortliks in die Landdroshof in Alexandra, Gauteng verskyn op aanklagte van moord, sameswering tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Molefe, wat verbind word met die moorde op DJ Somebody, DJ Vintos en die ingenieur van Vereeniging, Armand Swart, is borgtog van 500-duisend-rand toegestaan. Die verhoor sal na verwagting in Februarie begin.
# Die vakverbond Saftu sê hy verwerp president Cyril Ramaphosa en die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se poging om die jongste BBP-syfer as ekonomiese groei aan te bied. Die bruto binnelandse produk het in die drie maande tot September vanjaar met 0,5-persent gestyg. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê vir werkende mense is dit stagnasie in ‘n stelsel wat voortgaan om armoede, werkloosheid en uiterste ongelykheid te veroorsaak:
# Die LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings in KwaZulu-Natal, Siboniso Duma, het die Padverkeersinspektoraat geprys oor sy sukses met die #NenzaniLaEzweni-operasie. Die woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê in die afgelope jaar het noodlottige botsings van 502 tot 478 gedaal en sterftes van 582 tot 553, ‘n afname van vyf-persent. Hy sê die inspektoraat het sedert Maandag byna vier-duisend voertuie voorgekeer, 111 spoedoortredingsklagtes uitgereik en een-duisend-561 motoriste in hegtenis geneem vir dronkbestuur:
Nuus uit die buiteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, en Amerikaanse onderhandelaars kon blykbaar nog nie ‘n deurbraak maak in ‘n Oekraïnse vredesooreenkoms nie. Russiese amptenare sê die gesprekke was prakties, maar geen ooreenkoms is bereik oor geografiese toegewings deur Kiëf nie. NAVO se ministers van Buitelandse Sake vergader intussen in Brussel vir voortgesette vredesgesprekke. Die hoof, Mark Rutte, sê Moskou toets hul beperkings en hulle het steeds te kampe met werklike en blywende gevare. Hy sê Rusland het hul lugruim met hommeltuie en stralers geskend en spioenasieskepe in sy water ontplooi.
# Krieket: Die voormalige kaptein van die Protea-vrouespan, Dané van Niekerk, kan na twee-en-‘n-half jaar haar terugkeer na internasionale aksie maak in Vrydag se eerste T20 teen Ierland in Kaapstad. Sy het haar uittrede aangekondig ná 2023 se Wêreldbekertoernooi in die formaat nadat sy weens fiksheidsprobleme uitgelaat is, maar het dit onlangs omgekeer. Die 32-jarige Van Niekerk is ingesluit in die groepe vir albei witbalreekse teen die Iere. Sy glo sy het baie meer om die span te bied:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-853-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….