Nuus 16:00
BULLETIN 28 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Skerp afname in ondernemings wat sluit namate likwidasies met 34,7-persent daal in Oktober
# Meer as 320 mense sterf in oorstromings in Suidoos-Asië
# En rugby: Shilton van Wyk is gretig om die Blitsbokke môre ‘n vinnige begin in Dubai te gee
# Statistieke Suid-Afrika sê algehele likwidasies het verlede maand met 34,7-persent gedaal in vergelyking met Oktober verlede jaar. Onica Mushwana van Statistieke SA sê likwidasies van ondernemings het met 46 gevalle afgeneem, terwyl likwidasies van beslote korporasies met 22 gevalle gedaal het. Sy sê dit is ‘n beduidende afname in sake-mislukkings in die land:
# Die DA vra die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om te verseker dat klasgeld- en verblyfbetalings glad verloop vir die volgende akademiese jaar. Die party waarsku dat vorige wanbestuur onder die voormalige minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, insluitend onreëlmatige raadsaanstellings, steeds die bestendigheid van die befondsingsliggaam bedreig. Delmaine Christians van die DA sê studente mag nie benadeel word nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal weens oorstromings in groot dele van Suidoos-Asië het tot minstens 320 gestyg, met owerhede wat worstel om gestrande inwoners te red, krag en kommunikasie te herstel en herstelpogings te koördineer. Sikloon-aangedrewe stortreën tref al vir ‘n week groot dele van Indonesië, Maleisië en Thailand, met ‘n buitengewone tropiese storm wat in die Malakka-straat vorm. Die dodetal in die suidelike provinsies van Thailand is tans 145 en 3,5-miljoen mense word deur die oorstromings geraak
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê operasies sal binnekort oor land begin om vermeende Venezolaanse dwelmhandelaars te keer. Die Amerikaanse Weermag het meer as 12 oorlogskepe en 15-duisend soldate in die streek ontplooi in wat die Pentagon Operation Southern Spear noem. Die Weermag het reeds meer as 80 mense gedood in aanvalle op bote as deel van die veldtog teen dwelms. Trump sê hulle doen alles moontlik om Venezolaanse dwelmhandelaars te stop:
# Rugby: Die blitsige Shilton van Wyk is gretig om die Springbok-sewes ‘n vinnige begin in Dubai te gee wanneer die nuwe wêreldreeks môre in die Verenigde Arabiese Emirate afskop. Die Blitsbokke is in Groep A saam met Argentinië, Fidji en Frankryk. Van Wyk het vier jaar gelede sy buiging vir Suid-Afrika gemaak op dieselfde toernooi. Hy sê hulle besef hulle moet vinnig begin en van die begin oorheers in môre se eerste wedstryd teen Frankryk om die seisoen op ‘n hoë noot af te skop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-535-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-172-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….