Nuus 16:00
BULLETIN 17 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra ‘n sterker vennootskap tussen Suid-Afrika en Namibië
# Sappi sluit aan by ‘n wêreldwye program vir veiliger tekstielproduksie
# En rugby: Marx verwag ‘n hewige aanslag en fisieke stryd teen Wallis
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Namibië moet hul samewerking versterk om ekonomiese groei en gedeelde ontwikkeling te bevorder. Hy en die Namibiese president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, was medevoorsitters van die vierde bi-nasionale kommissie in Pretoria. Ramaphosa het Namibië beskryf as Suid-Afrika se suster-nasie, gebind deur ‘n gedeelde vryheidstryd. Hy sê die sukses van die kommissie sal gemeet word deur bestaande ooreenkomste in te stel om streeksvoorspoed, bestendigheid en samewerking te bevorder:
# AfriForum sê hy sal sy regsgeding teen die energiereguleerder, Nersa, oor Eskom se bykomende elektrisiteitstariefverhoging van 54-miljard-rand voortsit. Die dringende aansoek is van die hofrol verwyder en sal nou later in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Dalena Beyers van AfriForum voer aan Nersa het versuim om redes vir die goedkeuring van die verhoging te verskaf tot net voor die verhoor, wat kommer wek oor deursigtigheid en die besluitnemingsproses:
# Die Suid-Afrikaanse hernubare hulpbron-onderneming Sappi het aangesluit by die Padkaart na Zero-program wat die Stigting vir die Zero-vrystelling van Gevaarlike Chemikalieë geskep het om skadelike chemikalieë uit wêreldwye modevoorsieningskettings te verwyder. Die onderneming verskaf deur middel van sy Sappi Verve-handelsmerk oplosbare houtvesels wat gebruik word om volhoubare tekstiele te vervaardig. Sappi sê die vennootskap sal verantwoordelike chemiese bestuur versterk en deursigtigheid in die voorsieningsketting bevorder. Die program sal ook samewerking met vervaardigers en handelsmerke ondersteun om veilige en volhoubare tekstielproduksie wêreldwyd aan te moedig.
# Rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx sê hulle maak hulle gereed vir ‘n hewige, fisieke stryd teen Wallis in môre se derde en laaste Nasieskampioenskaps-tuiswedstryd in Durban. Wallis het sy grootste tuisnederlaag ooit van 73-0 gely in die spanne se vorige kragmeting in November verlede jaar. Marx het aansprake verwerp dat die Bokke die volslae gunsteling is om die wedstryd te wen en sê Wallis is ‘n taai span ongeag vorige uitslae:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-167-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-986-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die Media-ontwikkelings‑ en Verskeidenheids-agentskap het kwalifiserende gemeenskapsmedia-organisasies gevra om aansoek te doen vir finansiële steun deur sy jaarlikse oproep vir toelaebefondsings-aansoeke. Die program vorm deel van die agentskap se voortgesette pogings om Suid-Afrika se medialandskap te vernuwe en die gemeenskaps-mediasektor te versterk. Die agentskap sê die befondsing het ten doel om ‘n uiteenlopende, inklusiewe en volhoubare gemeenskapsmedia-omgewing te ondersteun. Aansoeke sluit die einde van die maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….