Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê die integrasie van hernubare energie is van kritieke belang vir transmissie
# Infrastructure South Africa hou in Maart ‘n Volhoubare Infrastruktuurontwikkelingsimposium in Kaapstad
# En Rafael Nadal hoop om volgende maand in Doha terug te keer na mededingende tennis
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die suksesvolle integrasie van nuwe opwekkingsvermoë, veral van hernubare energiebronne, is deurslaggewend vir doeltreffende transmissie. Hy het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor die instel van die Energie-aksieplan. Ramokgopa het onthul privaat sektor befondsing is beskikbaar vir transmissieprojekte, ná samesprekings met sendinghoofde wat buitelandse belange in die land verteenwoordig. Ramokgopa het verseker belegging in die privaat sektor sal nie die staat se eienaarskap van die netwerk in die gedrang bring nie:
# Infrastructure South Africa bied van 17 tot 19 Maart die 2024-Volhoubare Infrastruktuursimposium by die Century City-konferensiesentrum in Kaapstad aan onder die tema, “Gehalte infrastruktuur vir ontwikkeling, herstel en inklusiewe groei”. Die geleentheid sal sleutel-belanghebbendes van Suid-Afrika en van regoor die vasteland byeen bring om infrastruktuurontwikkeling aan te dryf en daarop fokus om ekonomiese herstel deur strategiese beplanning te versnel. Die simposium sal regulatoriese hervorming bespreek, befondsingsmodelle ondersoek, die voordele van die komende pyplyn onder oë neem en meer lig werp op beleggingsgeleenthede. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, sal die simposium lei.
# Die Noord-Kaapse polisiekommissaris, Koliswa Otola, maan boere in die provinsie om hulle vee volgens die Wet op Diere-identifikasie te brandmerk. Vyf verdagtes is onlangs in hegtenis geneem weens die vermeende diefstal en besit van vee in Richmond en Vanwyksvlei. Die polisiewoordvoerder, Timothy Sam, sê baie veediefstalsake misluk omdat diere nie behoorlik gemerk is nie:
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings herhaal sy onwrikbare standpunt teen die uitvoer van lewende diere per see, en beklemtoon die ernstige uitwerking daarvan op dierewelsyn. Die MV Bahijah, wat duisende Australiese skape en beeste vervoer, het vroeër hierdie maand van Australië na die Midde-Ooste gevaar, en moes van sy roete deur die Rooisee afwyk weens toenemende aanvalle op vragskepe. Die NRDBV se woordvoerder, Jacques Peacock, sê die raad het nuus ontvang dat die skip van koers verander het, en nou op pad is na Oos-Londen in die Oos-Kaap.
# Tennis: Die Spaanse ster, Rafael Nadal, beplan om volgende maand in Doha na die beroepspel terug te keer. Die 22-malige Grand Slam-wenner het vroeër die maand na die spel teruggekeer na ‘n jaar op die krukkelys, maar is toe weer beseer en kon nie aan die Australiese Ope deelneem nie. Die 37-jarige Nadal het vir die Katarse Ope ingeskryf wat op 19 Februarie begin, waar hy teen die Russiese spelers Daniil Medvedev en Andrey Rublev te staan kan kom. Die voormalige wêreld nommer een het tot nommer-446 op die wêreld-ranglys teruggesak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-775-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….