Nuus 16:00
BULLETIN 26 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala verduidelik sy hospitaalhuurkontrak te midde van polisie-tenderbewerings
# Vier mense sterf in ‘n verwoestende brand in ‘n woonkompleks in Hongkong
# En rugby: Die Bulle stel ‘n sterk groep van 39 bekend vir die Europese Kampioenebekerreeks
# Die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala het bevestig hy het die Departement van Openbare Werke genader om die Polisie-opleidingskollege se Gesondheidsorgsentrum in Tshwane en die omliggende grond te huur. Hy getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria. Matlala ontken hy het die perseel gehuur in afwagting van ‘n tender, en sê sy betrokkenheid het reeds in 2021 begin. Hy sê die hospitaal kon nie gebruik word nie omdat polisielede die gebou beset het:
Die geskorste adjunkhoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het intussen gevra om môre se verskyning voor die Madlanga-kommissie uit te stel. Hy word verdink van wangedrag, medepligtigheid aan ‘n moord in Brakpan en die bestuur van ‘n geheime eenheid wat betrokke is by afpersing, ontvoering en onreëlmatige bevorderings. Mkhwanazi het glo ook ooreenkomste onderteken om die metropolisie se bloulig-hulpbronne aan Matlala te verskaf. Die hoofgetuienisleier, Matthew Chaskalson, sê die volgende getuie sal Vrydag verskyn:
# Die Department van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het hoofregter Mandisa Maya se vrystelling van die 2023/24- en die 2024/25-regterlike verslag verwelkom. Dit toon dat Suid-Afrika se howe sukkel om tred te hou met hul saaklading, en die meeste slaag nie daarin om sake betyds af te handel nie. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die omvattende en gedetailleerde verslae sal bydra tot die voortgesette interaksie tussen die uitvoerende gesag en die regbank:
Nuus uit die buiteland:
# Vier mense is dood toe ‘n reuse-brand vroeër vandag verskeie toringgeboue in ‘n woonkompleks in die noordelike Tai Po-distrik in Hongkong verswelg het. Dik grys rook het by die geboue uitgeborrel en nooddienste het gesukkel om die brand te blus. Die polisie sê verskeie mense is steeds vasgekeer in die brandende geboue. Twee mense is in ‘n bedenklike toestand nadat hulle ernstige brandwonde opgedoen het. Van die brandweerpersoneel is ook beseer toe hulle probeer het om die vlamme te blus wat deur die 31 verdiepings gewoed het.
# Rugby: Die Bulle het ‘n sterk groep van 39 bekendgemaak vir vanjaar se Europese Kampioenebekerreeks. Die Pretoriase franchise skop volgende Saterdag sy veldtog af wanneer hy die Franse Top 14-span Bordeaux Bègles op Loftus Versfeld ontvang. Daar is 18 Springbokke in die groep, insluitend die 31-jarige losskakel Handré Pollard, wat in Julie weer by die Bulle aangesluit het ná suksesvolle tydperke by Montpellier in Frankryk en Leicester Tigers in Engeland. Hy was ook deel van die Springbokke se groep tydens die onlangse Nasiestoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-462-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-169-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….