Nuus 16:00
BULLETIN 20 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Steve Letsike vra hernude toewyding op die G20-Maatskaplike beraad
# Dumisani Khumalo is vrygespreek en keer terug na Misdaadintelligensie te midde van aanklagte
# En gholf: Die Nedbank Gholf-uitdaging bevestig die deelnemers aan sy toernooi in Desember
# Die adjunkminister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, het op die G20-Maatskaplike beraad hernude toewyding, bewysgebaseerde beleide en doeltreffende leierskap gevra. Die beraad het ekonomiese, maatskaplike en politieke uitdagings aangepak voor die G20-leiersberaad in Johannesburg. Letsike beklemtoon Suid-Afrika se geskiedenis om krisisse te oorkom en sê gemeenskappe maak saak. Sy moedig alle belanghebbendes aan om swak stelsels te versterk en mislukte projekte te sluit:
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, is onskuldig bevind in ‘n interne polisie-ondersoek en keer terug, ondanks voortgesette strafregtelike aanklagte teen hom. Hy staan tans tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie in verband met die aanstelling van brigadier Dineo Mokwele, wat na bewering op ‘n onreëlmatige manier by die polisiemag aangesluit het. Khumalo staan ook tereg op aanklag van die beweerde misbruik van intelligensiefondse en die magtiging van onbehoorlike eiendomsaankope. Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola steun sy terugkeer en sê die interne proses het geen wangedrag gevind nie.
# Die DA in Gauteng het vandag voor premier Panyaza Lesufi se kantoor in Johannesburg betoog en inhegtenisnemings en die terugbesorging van die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni se geplunderde fondse geëis. Die party vra dat bates waarop beslag gelê word, vinnig verkoop moet word om pasiënte te bevoordeel, strafregtelike aanklagte vir almal wat betrokke is, verkrygingshervormings en die afdanking van die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko. Die DA-lid Jack Bloom eis ook geregtigheid vir die verklikker Babita Deokaran:
# Die Wes-Kaapse regering sê die bek-en-klouseer-uitbreking wat vroeër hierdie maand opgespoor is in ‘n voerkraal in Gouda is onder beheer. Die betrokke plaas bly onder streng kwarantyn en alle beeste is ingeënt en gemerk. Plase binne ‘n omtrek van tien-kilometer word gemonitor terwyl amptenare voortgaan om dierebewegings na te spoor. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, waarsku alle beweging van diere met gesplete hoewe moet onmiddellik stop, anders sal regstappe teen boere ingestel word.
# Gholf: Die Nedbank Gholf-uitdaging, wat vanaf 4 Desember op die Gary Player-buiteklub in Sun City gespeel word, sluit ‘n mededingende groep spelers in wat gaan meeding om algehele prysgeld van net meer as 100-miljoen-rand. Die DP World-toergeleentheid is ter ere van die Suid-Afrikaanse legende Gary Player. Spelers wat hulle deelname bevestig het, sluit in die Noorweër Viktor Hovland, wat sy buiging sal maak, en die verdedigende kampioen, Johannes Veerman van Amerika. Aldrich Potgieter, wat verlede jaar tweede geëindig het, sal ook saam met ander Suid-Afrikaners meeding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-645-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-72-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….