Nuus 16:00
BULLETIN 19 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika plaas sy Kritieke Minerale-raamwerk op die wêreldverhoog
# Sokker: Barca is uiteindelik terug op Camp Nou na ‘n afwesigheid van twee jaar
# En Pepkor en Investec beplan glo om ‘n bankdiens sonder fooie te skep
# Suid-Afrika berei hom voor om sy G20-raamwerk vir kritieke minerale te bevorder op die naweek se leiersberaad in Johannesburg. Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, het Afrikalande aangespoor om agter hul minerale rykdom te verenig. Hy het op ‘n G20 Afrika-vennootskap vir kritieke minerale in Sandton, Johannesburg, die vasteland gevra om te skuif van die uitvoer van rou minerale na die bevordering van produksie wat waarde toevoeg. Mantashe het teenoor SABC News beklemtoon samewerking is noodsaaklik:
# Statistieke Suid-Afrika sê inflasie het die tweede agtereenvolgende maand gestyg en in Oktober 3,6-persent bereik, die hoogste in langer as ‘n jaar. Voedselinflasie het gedaal tot 3,9-persent, met stadiger stygings in die prys van groente, vrugte, drankies, suiker en vleis, hoewel sekere basiese goedere soos graankosse, vis, olie en suiwelprodukte duurder geword het. Statistieke SA se woordvoerder, Ricado Johnson, sê Noordwes het die hoogste inflasie van al die provinsies getoon teen 4,3-persent, terwyl die Oos-Kaap die laagste was teen 3,1-persent:
# Die Departement van Gesondheid se nasionale komitee vir die lys van noodsaaklike medisyne het die insluiting van die onlangs geregistreerde inspuitbare Lenacapavir op die lys vir noodsaaklike medisyne goedgekeur. Lenacapavir is ‘n revolusionêre inspuitbare middel wat met net twee inspuitings per jaar ses maande se beskerming bied. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die insluiting van behandelings soos Lenacapavir is belangrik om die vervaardiging van generiese medisyne aan te moedig om beskikbaarheid en bekostigbaarheid te verbeter:
# Sokker: Die Spaanse reus Barcelona sal Saterdag uiteindelik na Camp Nou terugkeer nadat hy die afgelope twee jaar elders moes speel terwyl die beroemde stadion herbou is. Hulle speel teen Athletic Bilbao in ‘n La Liga-wedstryd. Camp Nou is na die 2022/23-seisoen gesluit. Die heropening vind ‘n jaar na die beplande datum plaas, met die herbou wat meer as 30-miljard-rand kos. Die stadion het ‘n tydelike vermoë van 45-duisend, maar sal 105-duisend sitplekke hê wanneer die boonste vlak voltooi is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-354-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-115-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-16-sent per vat.
# En laastens: Afrika se grootste klere- en selfoonverkoper beplan om banktakke in Suid-Afrika oop te maak wat gratis dienste aanbied deur sy winkelnetwerk van ses-duisend in die land te gebruik om miljoene laer-inkomste-kliënte te bereik. Bloomberg berig Pepkor en Investec sal waarskynlik saamwerk, hoewel gesprekke nog plaasvind en daar geen sekerheid is oor ‘n ooreenkoms nie. Die winste van die nuwe onderneming, wat waarskynlik Pep Bank genoem sal word, sal verdeel word tussen die kleinhandelaar en Investec, wat fokus op individue met ‘n hoë nettowaarde in Suid-Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….