Nuus 16:00
BULLETIN 18 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Gigaba word aangekla van korrupsie oor Transnet-kontrakte
# Brian Mogotsi beweer Matlala is die gewapende man in Mamelodi genaamd ‘John Wick’
# En tennis: Alcaraz onttrek aan die Davisbeker-eindtoernooi
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het vandag in die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng verskyn op aanklag van korrupsie wat verband hou met drie Transnet-kontrakte wat tydens sy ampstermyn onderteken is. Hy staan tereg saam met die voormalige Transnet-bestuurders Brian Molefe, Siyabonga Gama, Anoj Singh en Thamsanqa Jiyane. Die beweerde onreëlmatige verkrygingskontrakte van miljarde rand dateer terug van 2010 tot 2014. Die saak is tot 30 Januarie uitgestel vir die openbaarmaking van die dossier en finalisering van die aanklagte.
# Die polisie-informant Brian Mogotsi beweer misdaadintelligensie het die gewapende man genaamd ‘John Wick’ identifiseer as die omstrede Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Hy word gekoppel aan vigilante moorde op die Boko Haram-bende in Mamelodi, Pretoria, in 2021. Mogotsi het voor die Madlanga-kommissie getuig die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, ken Matlala vanaf 2018. Hy betwis Cele se bewering dat hy Matlala eers verlede jaar ontmoet het en het bewyse aangehaal wat toon Cele het wel vir Matlala by sy huis besoek:
# Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, het ‘n omvattende interne ondersoek gelas na ernstige bewerings teen senior amptenare van die metropolisie, insluitend die geskorste adjunkhoof, Julius Mkhwanazi. Die Madlanga-kommissie het verlede week getuienis vanaf verskeie amptenare aangehoor wat beweer die EMPD is deur misdadige groepe geïnfiltreer. Xhakaza sê hy het ook die stadsbestuurder opdrag gegee om binne 30 dae ‘n voorlopige verslag oor die ondersoek in te handig:
# Die Sitrusprodusente-vereniging van Suider-Afrika het nuwe Amerikaanse tariefvrystellings verwelkom wat lemoene insluit, en noem dit goeie nuus vir die 2026-seisoen. Uitvoerende hoof Boitshoko Ntshabele sê die vrystelling herstel Suid-Afrika se mededingendheid in ‘n belangrike mark, wat uitvoergroei en werkskepping ondersteun. Die tarief van 30-persent is laat in die huidige seisoen ingestel, wat die uitwerking daarvan beperk het. Ntshabele vra Amerika om mandaryne ook vry te stel en waarsku oor prysstygings en voorraadtekorte indien die tariewe voortduur.
# Tennis: Spanje se hoop om die Davisbeker-eindtoernooi te wen het ‘n groot terugslag gely toe die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, hom moes onttrek aan die toernooi in Bologna. Hy het op sosiale media aangekondig sy regter-dyspier is geswel en hy het mediese raad ontvang om nie te speel nie. Spanje pak Donderdag die Tsjeggiese Republiek in die kwarteindronde. Frankryk en België skop die toernooi vandag af, terwyl die gasheer, Italië, môre teen Oostenryk sal speel. Die laaste kwarteind-kragmeting is tussen Argentinië en Duitsland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-222-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-34-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….