Nuus 16:00
BULLETIN 17 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola bevestig die voorbereidings vir die G20-beraad is op koers
# Bangladesj se uitgesette eerste minister word ter dood veroordeel
# En rugby: Die Bokke speel teen Engeland, Skotland en Wallis aan die begin van die nuwe Nasies-kampioenskap
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, sê voorbereidings vorder goed vir die naweek se G20-leiersberaad in Johannesburg. Daar is bevestig staatshoofde van 42 lande sal dit bywoon, insluitend 20 G20-lede en genooide gaste. Lamola sê die beraad sal fokus op inklusiewe groei, veerkragtige ekonomieë en ‘n regverdige toekoms. Hy beklemtoon verskeie hoëvlak-byeenkomste met minimale ontwrigting word in Gauteng beplan:
Intussen gaan Suid-Afrika hierdie week die G20 Maatskaplike Beraad in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand aanbied. Die beraad se tema is ‘Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid’ en sal die jeug, vroue, arbeid, die burgerlike samelewing en geloofsgebaseerde groepe insluit. Die byeenkoms sal gesamentlik aangebied word deur die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, en die voormalige adjunkpresident, Phumzile Mlambo-Ngcuka. Die beraad sal ‘n mensgesentreerde G20 Maatskaplike Verklaring vorm. Adjunkpresident Paul Mashatile sal môre die openingsrede lewer.
# Die hoof van die polisie se eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade, Mary Motsepe, het aan die Madlanga-kommissie gesê sy het nooit die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se opdrag ontvang oor die ontbinding van die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde nie. Sy sê die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het haar bloot ingelig dat daar ‘n brief is. Motsepe getuig sy het later gehoor Mchunu reken die eenheid is onnodig en voeg nie waarde by tot wetstoepassing nie:
Nuus uit die buiteland:
# Bangladesj se afgesette eerste minister, Sheikh Hasina, is ter dood veroordeel na ‘n maande-lange verhoor waarin sy skuldig bevind is vir die bevel van ‘n dodelike onderdrukking van verlede jaar se studente-geleide betogings. Die Binnelandse Oorlogsmisdaadhof het uitspraak gelewer te midde van streng sekerheidsmaatreëls in Hasina se afwesigheid nadat sy in Augustus verlede jaar na Indië gevlug het. Dit is die ergste regstappe teen ‘n voormalige leier in dekades en vrese bestaan dat dit nuwe onrus kan aanwakker voor die parlementêre verkiesing vroeg volgende jaar.
# Rugby: Engeland, Skotland en Wallis gaan middel volgende jaar in Suid-Afrika teen die Springbokke speel aan die begin van die nuwe Nasies-kampioenskap. Die kompetisie word bestempel as ‘n mylpaal-gesamentlike onderneming tussen die Suidelike Halfrond-beheerliggaam, Sanzaar, en die Sesnasies, en sal elke tweede jaar gespeel word. Dit behels die twaalf beste lande in die wêreld wat meeding in die bestaande toetsgleuwe in Julie en November. Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië, Argentinië, Japan en Fidji sal die suide verteenwoordig teen die Sesnasies-spanne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-403-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-78-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….