Nuus 16:00
BULLETIN 16 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Kernreguleerder ondersoek drie voorvalle van radioaktiewe besoedeling by Koeberg
# Herotel stel Amazon se Leo-satelliet-internetdiens in Suid-Afrika bekend voor Musk se Starlink
# En sokker: Bellingham loof Messi ná Engeland uit die Wêreldbekertoernooi geskakel is
# Die Nasionale Kernreguleerder ondersoek drie voorvalle van radioaktiewe besoedeling wat gedurende die afgelope twee weke tydens instandhoudingswerk in eenheid twee van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad voorgekom het. Die reguleerder sê die besoedeling was beperk tot beheerde gebiede in die reaktorgebou en het geen gevaar vir die publiek of die omgewing ingehou nie. News24 berig werkers is gemonitor en hul blootstelling aan bestraling was ver onder die voorgeskrewe veiligheidsperke. Eenheid twee is steeds vanlyn vir geskeduleerde instandhouding en sal na verwagting in September weer in diens gestel word.
# Die Wes-Kaapse polisie bied ‘n beloning van tot 50-duisend-rand aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van verdagtes wat ‘n Ghanese burger vermoor het. Die 35-jarige Bashira Issaka is verlede maand by sy vraghouer-sakeonderneming doodgeskiet deur verdagtes wat ʼn beskermingsfooi by hom geëis het. Die polisiewoordvoerder, Thembakazi Mpendukana, sê die ondersoekbeampte doen alles in sy vermoë om die oortreders op te spoor:
Die GOOD-party in Stellenbosch is intussen bekommerd oor die aantal noodlottige skietvoorvalle in Groendal wat moontlik verband hou met afpersing-sindikate wat plaaslike spazawinkels teiken. Grechard Petersen van die party sê die driedubbele moord in Jakaranda-straat in Mei en die noodlottige skietvoorval in Langrug was nie geïsoleerd nie. Hy sê dis deel van ʼn ontstellende patroon wat dui op ʼn toenemende veiligheidskrisis in dele van Groendal:
# Herotel het ‘n vennootskap met Amazon Leo aangekondig wat vanaf volgende jaar satelliet-internetdienste in Suid-Afrika bied. Die onderneming het Elon Musk se mededingende diens, Starlink, plaaslik voorgespring deur vroeër aan regulatoriese vereistes te voldoen. Die nuwe diens, wat as Evry bemark word, sal Amazon se Lae Aarde-wentelbaan-satellietnetwerk gebruik om internetverbinding aan huise en klein ondernemings te verskaf, veral in onderbediende landelike gebiede. Herotel sal installerings en kliëntediens deur sy landwye netwerk bestuur. Die ooreenkoms is Amazon Leo se eerste satelliet-internetvennootskap in Afrika.
# Sokker: Engeland se middelveldspeler, Jude Bellingham, het Argentinië se kaptein, Lionel Messi, geloof nadat hulle 2-1 verloor het in die Wêreldbeker-halfeindstryd. Hy beskryf die 39-jarige as ‘n uitsonderlike speler wie se beweging, balbeheer en intelligensie ongeëwenaard is. Bellingham erken die kragmeting het sy bewondering vir die legendariese speler verdiep. Hy meen England was verkeerd om sy voorsprong te probeer verdedig, maar glo hulle sal uit die nederlaag leer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-73-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-21-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….