Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK bevestig Umkhonto weSizwe se deelname aan die verkiesing hang af van ‘n hofuitspraak
# Die Johannesburgse burgemeester begin om tydelike behuising te reël vir brandslagoffers
# En, gholf: Nick Dunlap word die eerste amateur sedert 1991 om ‘n PGA-toernooi te wen
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het Umkhonto weSizwe se registrasie om aan die algemene verkiesing van 2024 deel te neem, bevestig. Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, het egter aan Newzroom Afrika gesê twee hofsake moet nog afgehandel word, wat sal beslis oor die party se geskiktheid vir deelname. Hy sê die party spreek ten spyte van die hangende regsuitdagings, vertroue uit en is vasbeslote in sy verbintenis om aan die komende verkiesing deel te neem:
# Die burgemeester van die Stad Johannesburg, Kabelo Gwamanda, koördineer tydelike verblyf vir die slagoffers van gister se tragiese brand in die sakekern. ‘n Brand in ‘n gebou op die hoek van Commissioner- en Nuggetstraat het twee mense se dood veroorsaak en nog vier is beseer. Meer as 100 mense wat in plakkershutte in die gebou woon, is dakloos gelaat. ‘n Verdagte wat vermoedelik die brand gestig het, is in hegtenis geneem. Gwamanda sê die stad is hard aan die werk om diegene wat geraak word te hervestig en noodskuilings te verskaf:
# Eskom het bekendgemaak die hoofbestuurder van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad, Velaphi Ntuli, is heraangestel. Hy is in 2021 weens prestasiekwessies geskors, toe die voormalige uitvoerende hoof, André de Ruyter, nog aan die stuur van sake was. Volgens News24 is Ntuli onontbeerlik vir die voltooiing van die vervangingsprojek van die stoomopwekker en die verlenging van Koeberg se bedryf. Eskom beplan om ‘n bedryfslisensie van 20-jaar vir die kernaanleg te bekom. Eenheid twee sal na verwagting in September bedryf hervat na ʼn onderbreking vir die vervangung van ʼn stoomopwekker.
# Russiese owerhede het ernstige strafregtelike aanklagte teen vier mense aanhangig gemaak ná ‘n groot betoging in die sentrale streek van Basjkortostan. Plaaslike media berig veiligheidsmagte in die stad Ufa, in die Oeralgebergte, het gisteraand die vierde verdagte aangekeer. Die aanklagte volg op betogings deur duisende mense verlede week oor die tronkstraf van ‘n inheemse regte-aktivis. Berigte dui aan die polisie was vinnig om ‘n seldsame groot vertoning van onenigheid in Rusland te onderdruk sedert Moskou se oorlog teen Oekraïne begin het.
# Gholf: Die Amerikaner, Nick Dunlap, het die eerste amateur sedert 1991 geword om ʼn PGA-toernooi te wen deur die American Express-toernooi in Kalifornië in te palm. Die heersende Amerikaanse Amateurkampioen het geëindig op 29 onder, met die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout op 28 onder, gevolg deur drie spelers gelyk op 27 onder. Dunlap kon nie die prysgeld van 28,7-miljoen-rand in ontvangs neem nie omdat hy ʼn amateur is. Die 20-jarige student aan die Universiteit van Alabama moet nou besluit of hy ʼn beroepspeler gaan word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-727-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….