Nuus 16:00
BULLETIN 11 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkhoof van Ekurhuleni se metropolisie word met onmiddelike ingang geskors
# Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer daal effens in die derde kwartaal
# En rugby: ‘n Bok-hulpafrigter verwag Saterdag ‘n reuse-aanslag van Italië
# Die adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, is met onmiddelike ingang geskors. Dit volg op verskeie getuienisse voor die Madlanga-kommissie wat Mkhwanazi verbind met beweerde korrupte transaksies. Dit sluit in die magtiging van blouligvoorregte vir die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en die toekenning van tenders sonder die voorgeskrewe prosesse.
# Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het in die derde kwartaal effens gedaal tot 31,9-persent vanaf 33,2-persent in die tweede kwartaal. Statistieke Suid-Afrika sê die aantal werklose mense het van Julie tot September tot agt-miljoen gedaal vanaf 8,3-miljoen van April tot Junie. Ses van die tien nywerhede wat die agentskap monitor, het toenames in indiensneming aangeteken, terwyl vier afnames gesien het in die jongste tydperk van drie maande. Werksgeleenthede is bygevoeg in die boubedryf, gemeenskaps- en maatskaplike dienste, en handel, terwyl poste in vervaardiging, finansies en nutsdienste verloor is.
Die uitvoerende hoof van die Nelson Mandelabaai Sakekamer, Denise van Huyssteen, sê intussen die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het môre in sy mediumtermyn-begroting die geleentheid om Suid-Afrika se ekonomiese potensiaal te ontsluit deur klein sake-ondernemings te ondersteun. Van Huyssteen sê mikro-, klein en mediumgrootte ondernemings verteenwoordig 90-persent van formele ondernemings, maar word deur burokrasie, swak infrastruktuur en befondsingsuitdagings bedreig. Sy voeg by die bevordering van toerisme, digitale ondernemings en regulatoriese hervorming kan inklusiewe groei en werkskepping aanmoedig.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown sê hulle neem Italië nie ligtelik op nie, omdat hulle ‘n gevaarlike span is. Albei spanne is vol selfvertroue vir Saterdag se botsing in Turyn, met Suid-Afrika wat Frankryk met 32-17 geklop het, tewyl Italië ‘n oorwinning van 26-19 oor Australië behaal het. Brown sê die Italianers is ‘n groot bedreiging by die afbreekpunte, en ook baie gevaarlik wanneer hulle ruimte en geleenthede kry:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-en-37-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-138-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-37-sent per vat.
# En laastens, die Departement van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede het sy oproep herhaal vir groter insluiting van mense met gestremdhede in alle sektore van die samelewing. November is die maand vir bewustheid van die regte van gestremdes in Suid-Afrika, ten einde bewustheid te verhoog en gestremdes se insluiting en regte te bevorder. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê persone met gestremdhede moet betekenisvol betrokke wees by beleidsontwikkeling, beplanning, begroting en program-instelling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….