Nuus 16:00
BULLETIN 10 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof verbied die gebruik van Bongani Ntanzi se bekentenis teen Muzi Sibiya in die Senzo Meyiwa-verhoor
# Die voormalige EMPD-adjunkhoof Revo Spies kritiseer die twyfelagtige CAT VIP-ooreenkoms
# En, Discovery Bank word met drie-miljoen-rand beboet weens nie-nakoming
# Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die staat mag nie die beweerde bekentenis van beskuldigde twee, Bongani Ntanzi, gebruik om beskuldigde een, Muzi Sibiya, in die Senzo Meyiwa-moordverhoor te kruisondervra nie. Die verdediging het aangevoer Ntanzi se verklaring kan nie op ander toegepas word nie. Die uitspraak volg nadat die polisie oorspronklik betreders ondersoek het in die moord op die Bafana Bafana-kaptein in 2014. Volgens Ntanzi se verklaring het Sibiya buite Meyiwa se meisie, Kelly Khumalo, se huis in Vosloorus, Gauteng, waggestaan toe twee mense ingekom het.
# Die afgetrede adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Revo Spies, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het die eerste keer van CAT VIP Protection gehoor toe hy die ooreenkoms van verstandhouding met die EMPD gesien het. Spies sê die ooreenkoms het luukse voertuie, ‘n helikopter en bedryfs-ondersteuning aan die metropolisie beloof. Hy sê die dokument was swak opgestel, wetlik gebrekkig en het polisiemagte effektief aan ‘n privaat maatskappy uitkontrakteer. Hy het dit uiters onreëlmatig en kommerwekkend genoem:
# Die Omsigtigheidsowerheid het administratiewe sanksies en ‘n finansiële boete van drie-miljoen-rand aan Discovery Bank opgelê vir nie-nakoming van die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum. Volgens die owerheid het die bank versuim om onvoldoende beheermaatreëls teen geldwassery aan te meld, nagelaat om 24 verdagte transaksies betyds uit te wys, en versuim om verpligte personeelopleiding te verskaf aan baie werknemers, insluitend senior bestuurders. Volgens Discovery Bank het hulle saamgewerk en die probleme opgelos maar wys uit geen werklike geldwassery is bevind nie.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die eerste Wes-Kaapse Beleggingsberaad het die kern-visie van die provinsie se Groei-vir-Werk-strategie omvat. Ses belangrike beleggingsverklarings ter waarde van altesaam 50-miljard-rand is tydens die beraad gemaak. Die provinsie se ekonomie het verlede jaar met 0,5-persent gegroei wat dieselfde as die nasionale gemiddeld is. Meyer sê die strategie beoog ‘n ekonomie van een-duisend-miljard-rand teen 2035:
# Rugby: Die Nieu-Seelandse vleuel Caleb Clarke is uit die naweek se toets teen Engeland op Twickenham nadat hy ‘n kopbeseringstoets gedruip het. Hy is beseer tydens die All Blacks se oorwinning van 25-17 oor Skotland. Die kaptein en slot Scott Barrett sal na verwagting terugkeer nadat hy die ontmoeting op Murrayfield misgeloop het weens ‘n beenbesering. ‘n Oorwinning oor Engeland sal die All Blacks op koers hou om die eerste keer sedert 2010 ‘n Grand Slam-oorwinning oor die vier Britse tuisnasies te behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-902-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-94-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….