Nuus 16:00
BULLETIN 7 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die beslaglegging op Mchunu se toestelle dui op vinniger ondersoeke
# Bek-en-klouseer is bevestig op ‘n plaas naby Gouda in die Wes-Kaap
# En rugby: George Gregan kritiseer die besluit om die Rugbykampioenskap vir ‘n All Blacks-toer te verruil
# Die politieke ontleder Dirk Kotzé sê die beslaglegging op die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se elektroniese toestelle dui daarop dat ondersoekprosesse begin versnel. Die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde het vanoggend vyf toestelle by Mchunu se huis in Pretoria afgeneem te midde van ‘n ondersoek na beweerde politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel. Kotzé het aan Newzroom Afrika gesê sodra die ondersoek afgehandel is, sal dit duidelik word wat gevind is:
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het ‘n geval van bek-en-klouseer op ‘n plaas naby Gouda bevestig. Die plaas en twee ander in Velddrift en Bredasdorp is onder kwarantyn geplaas, terwyl alle plase binne ‘n omtrek van tien kilometer ondersoek word. Veeartsenykundige spanne ondersoek ‘n vervoermaatskappy wat met die uitbreking verbind word. Staatsveearts Annelie Cloete het boere versoek om tot verdere kennisgewing geen gesplete hoef-diere te vervoer nie:
# Die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, in vennootskap met die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie, is besig om ‘n Wetenskap-, Tegnologie- en Vernuwings-padkaart vir Landbou te ontwikkel. Die padkaart sal koördinering verbeter, vernuwing aandryf en die hervorming van Suid-Afrika se agri-voedselstelsel as inklusief en veerkragtig ondersteun. Maneshree Jugmohan-Naidu van die departement sê die padkaart sal ook die ontwikkeling van nuwe hoëwaarde-gewasse, vee en agri-verwerkte produkte bevorder:
# Rugby: Die legendariese Wallabie-skrumskakel George Gregan het die besluit gekritiseer om die Rugbykampioenskap volgende jaar op te offer vir ‘n volwaardige All Blacks-toer na Suid-Afrika. Hy sê die verandering is op die slegste moontlike tyd nadat vanjaar se kampioenskap tot so ‘n opwindende kompetisie gelei het. Gregan sê dit het lank geneem vir die kampioenskap om so gewild soos die Sesnasies te word. Hy vra wat die reaksie sou wees as die Sesnasies vir ‘n jaar uitgestel word omdat Engeland eerder teen Frankryk wil speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-717-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n man wat goudstawe en -muntstukke ter waarde van ongeveer 14-miljoen-rand ontdek het terwyl hy ‘n gat vir swembad in sy tuin in Frankryk gegrawe het, het gehoor hy kan dit hou. Die naamlose man het die goud in Mei by sy huis in ‘n dorpie buite Lyon gevind en dit by die Streeksdirektoraat vir Kultuursake aangemeld. ‘n Woordvoerder van die plaaslike owerheid sê amptenare by die direktoraat het beslis hy mag dit hou, aangesien dit nie ‘n argeologiese skat is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….