Nuus 16:00
BULLETIN 5 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tiffany Meek-moordsaak word oorgeplaas na die Hooggeregshof vir voorverhoor
# Die waarnemende minister van Polisie vra versterking van Misdaadintelligensie en aanspreeklikheid binne wetstoepassing
# En TLU SA is bekommerd oor die volhoubaarheid van koringboere
# Die saak van die Gautengse vrou Tiffany Meek, wat teregstaan op moord op haar jong seun, is na die Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas vir ‘n voorverhoor op die 20ste van hierdie maand. Sy het vandag weer in die Roodepoortse Landdroshof verskyn op aanklag van moord en regsverydeling. Dit volg nadat haar elfjarige seun, Jayden-Lee, vroeër vanjaar dood gevind is in hul woonstelgebou in Fleurhof, Johannesburg. Meek bly in aanhouding nadat borgtog geweier is. Sy hou vol sy is onskuldig.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, vra die versterking van Misdaadintelligensie en beter aanspreeklikheid binne wetstoepassing. Hy verskyn voor die parlementêre ad hoc-komitee wat korrupsie binne die Polisiediens ondersoek. Cachalia het gewaarsku swakhede in oorsig en die verpolitisering van wetstoepassing het die stelsel ondermyn en dit onmoontlik gemaak om homself reg te ruk. Hy sê die bestryding van georganiseerde misdaad vra sterk leierskap, deursigtigheid en beter koördinering tussen die polisie en intelligensie-agentskappe:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy is tevrede met Suid-Afrika se graanprodusente wat hierdie sesoen ‘n rekord-oes gelewer het. Die land se algehele graan- en oliesaad-oes is meer as 23-miljoen-ton, wat 30-persent meer is as verlede jaar. Die mielie-oes alleen is 16,33-miljoen-ton, wat baie hoër is as die nasionale behoefte van 12-miljoen-ton. Bennie van Zyl van TLU SA sê ondanks die rekord-oes, bly hulle bekommerd oor die volhoubaarheid van koringboere:
# Die Padongelukkefonds het ‘n rekordbedrag van 5,5-miljard-rand in Oktober uitbetaal, die hoogste maandelikse uitbetaling vir die 2025/26-boekjaar. Dit volg na 4,2-miljard-rand in September, wat die totale uitbetalings sedert April op 20,2-miljard-rand te staan bring, teenoor 16-miljard-rand in vorige jare. Die waarnemende voorsitter van die Padongelukkefonds, Kenneth Brown, sê dit dui op vordering met die instelling se bestendigheid onder die nuwe raad, wat uitdagings op bestuurs-, finansiële en menslike hulpbronne-vlakke aanpak.
# Krieket: Die Engelse bouler, Mark Wood sê hulle vertrou stilweg dat hulle dié seisoen die droogte om die As sal kan beëindig wanneer die reeks die 21ste in Perth begin. Die land het die gesogte beeldjie in 2015 laas gewen en het sedert 2011 nog nie ‘n reeks in Australië gewen nie. Wood sê die groep het meer selfvertroue en geloof onder afrigter Brendon McCullum en kaptein Ben Stokes. Engeland het hierdie keer ‘n baie sterk snelboul-aanval, met Wood, Jofra Archer, Gus Atkinson, Josh Tongue en Brydon Carse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-553-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-963-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….