Nuus 16:00
BULLETIN 31 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering word veroordeel oor miljoene wat op BBP-beskerming bestee word te midde van personeeltekorte in die Polisie
# Die Giuffre-familie verwelkom die besluit om Andrew van alle koninklike titels te stroop
# En rugby: De Allende sê die grootste stryd teen Japan gaan by die afbreekpunte wees
# Die Activists and Citizens Forum sê die regering bestee miljoene aan BBP-beskerming terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens se ballistiese afdeling sukkel met ‘n ernstige personeeltekort. Die ballistiese hoof van die Polisie, Mishak Mkhabela, het die Madlanga-kommissie meegedeel die afdeling het slegs 42 ontleders, wat vertragings in vuurwapenontledings en hofsake veroorsaak. Die woordvoerder van die forum, Dennis Bloem, vra politieke leiers en die regering van nasionale eenheid om openbare veiligheid bo hul eie belange te plaas.
# Build One South Africa sê sondebelasting van ses-persent moet op aanlyn dobbelmaatskappye ingestel word om te verseker dat hulle ‘n billike bydrae tot die ekonomie lewer. Adjunkleier Nobuntu Hlazo-Webster het op ‘n virtuele parlementêre vergadering gesê aanlyn dobbelary het ‘n nasionale krisis geword wat kwesbare burgers uitbuit terwyl dobbelmaatskappye min belasting betaal. Sy sê die belasting sal dobbelary in ooreenstemming bring met belasbare bedrywe soos alkohol en tabak, en die inkomste kan gebruik word om rehabilitasie- en jeugopheffingsprogramme te finansier:
Nuus uit die buiteland:
# Die familie van wyle Virginia Giuffre wat koning Charles se broer, Andrew, van seksuele misbruik beskuldig het, verwelkom die besluit om hom van alle koninklike titels te stroop. Hy staan nou slegs bekend as Andrew Mountbatten-Windsor, en moet sy koninklike verblyfplek ontruim en na Sandringham verhuis. Buckingham-paleis het ernstige oordeelsfoute aangehaal wat verband hou met die seksoortreder Jeffrey Epstein. Giuffre se broer, Sky Roberts, het aan BBC Newsnight gesê hierdie stap is wel geskiedkundig, maar hy eis ‘n volledige ondersoek:
# Rugby: Die Springbok-senter, Damian de Allende sê kalmte en akkuraatheid is die sleutel teen die vinnige en gedissiplineerde Japannese aanval. Die Bokke skop môre hul jaareind-toer van vyf toetse af teen Japan op die Wembley-stadion in Londen. De Allende, wat die afgelope paar jaar sy rugby in Japan speel, verwag dat die grootste stryd by die afbreekpunte gaan wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-373-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-19-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê klimaats-uitwerking neem toe en tog hou aanpassings-finansiering nie tred hiermee nie en word die wêreld se kwesbaarstes onbeskermd gelaat. Volgens ‘n verslag van die VN se Omgewingsprogram sal aanpassings-finansiering in ontwikkelende lande teen 2035 tot 12 keer meer wees as die huidige openbare vloei daarvan. Guterres sê lewens kan beskerm word as die gaping gesluit, kllimaatregverdigheid gehandhaaf en ‘n veiliger en meer volhoubare wêreld gebou kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….