Nuus 16:00
BULLETIN 20 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Selfoonrekords verbind ‘n moord-beskuldigde polisie-speurder met die tenderpreneur Katiso “KT” Molefe
# Amazon se wolkdienste word getref deur ‘n urelange wêreldwye onderbreking
# En motorsport: Die Amerikaanse Grand Prix sal tot minstens 2034 in Texas plaasvind
# Selfoonrekords voor die Madlanga-kommissie verbind die moordbeskuldigde polisie-speurder Michael Pule Tau met die tenderpreneur Katiso “KT” Molefe, wat glo die bevel gegee het vir die moord op die ingenieur Armand Swart. Volgens Getuie A was daar verskeie oproepe en boodskappe tussen Tau en Molefe in die dae voor die moord op Swart in Gauteng in April verlede jaar. Getuie A het bygevoeg Molefe het na bewering die besonderhede van ‘n Q Tech-werknemer aan Tau verskaf:
# Die DA het die Gautengse Gesondheidsdepartement beskuldig dat hy bykans 20-miljoen-rand gemors het om ‘n muur te bou by die nuwe Boitumelo-kliniek, terwyl die bestaande gerief in puin lê. Die DA se kiesafdelingshoof vir Emfuleni-Noord, Kingsol Chabalala, sê die projek, wat 15-jaar gelede begin het, toon geen sigbare kliniek-infrastruktuur nie. Hy eis ‘n onafhanklike oudit en volledige ondersoek na die besteding sowel as verantwoordbaarheid van premier Panyaza Lesufi se administrasie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Wêreldwye onderbreking het die Amerikaanse tegnologie-reus Amazon se wolkdienste vir ‘n aantal ure getref. Talle webwerwe en dienste is ontwrig, insluitend Amazon Prime, Perplexity, Fortnite, Alexa, Snapchat en Duolingo. Amazon se instandhoudingsmaatskappy sê die probleem is na sowat drie uur grootliks opgelos, met sommige dienste wat nog werk om die agterstand uit te wis. Baie ander dienste is geraak, insluitend Reddit en verskeie video-stroomplatforms soos Hulu en DisneyPlus. In Europa is verskeie groot selfoonmaatskappye ook geraak, asook sommige Britse banke, WhatsApp en Tinder.
# Motorsport: Die Amerikaanse Grand Prix op die Circuit of the Americas in Texas, wat gister deur Max Verstappen van Red Bull gewen is, sal tot minstens 2034 op die Formule 1-kalender bly. Dit het sedert sy instelling in 2012 reuse-skares gelok, insluitend meer as 430-duisend verlede jaar. F1 se president en uitvoerende hoof, Stefano Domenicali, sê dit is ‘n ware hoogtepunt vir aanhangers, bestuurders én spanne. Die baan se voorsitter, Bobby Epstein, sê dit het gegroei tot een van die wêreld se grootste sportbyeenkomste oor ‘n enkele naweek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-65-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-295-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die Regeringskommunikasie en -inligtingstelsel het sy beste wense aan die matrieks van 2025 oorgedra voor hulle môre met hul nasionale eindeksamen begin. Leerders word aangemoedig om die eksamen met toewyding, selfvertroue en vasberadenheid te benader, terwyl ouers en voogde versoek word om ‘n kalm, ondersteunende omgewing by die huis te verseker. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi, beveel gesonde gewoontes aan, insluitend rus, voedsame maaltye en rustye gedurende studies om leerders te help om hul beste te lewer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….