Nuus 16:00
BULLETIN 17 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu sê Mkhwanazi het gedreig om terug te veg oor die ontbinding van die taakspan teen politieke moorde
# Rusland sê baie vrae moet nog beantwoord word voor Putin met Trump sal vergader
# En motorsport: Die Amerikaanse Grand Prix word verklaar tot ‘n wedren met gevaarlike hitte-toestande
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het gedreig om terug te veg nadat hy die brief ontvang het wat die taakspan vir politieke moorde ontbind, en die aanstellings by misdaadintelligensie vries. Mchunu sê Mkhwanazi het sy woede uitgespreek deur WhatsApp en deur sy personeelhoof, Cedrick Nkabinde, en geëis dat die brief teruggetrek word. Hy sê hy het gewaarsku dat dit polisie-operasies kan ontwrig en ‘n uitwerking op sy gesin kan hê:
# President Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Ontwikkelingsplan verskans maatskaplike geregtigheid as ‘n reg, nie ‘n voorreg nie. Vordering om dit en die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bereik, is egter van koers af. Ramaphosa het gapings tussen beleid en praktyk uitgelig, met stygende voedselonsekerheid en wanvoedingsgevalle wat binne vyf-jaar met 26-persent gestyg het. Hy waarsku dat wêreldwye honger en klimaatsverandering steeds billike groei en menseregte bedreig:
# G20-ministers van Finansies en presidente van sentrale banke het die 2025–2030 G20 Afrika-betrokkenheidsraamwerk onderskryf om groei en ontwikkeling reg oor Afrika te bevorder. Die vergadering, onder die voorsitterskap van Suid-Afrika se adjunkminister van Finansies, David Masondo, het in Washington volhoubare ontwikkeling, skuldvolhoubaarheid en die regulering van kunsmatige intelligensie bespreek. Masondo sê die raamwerk verseker konsekwente betrokkenheid by Afrika se ekonomiese uitdagings. Intussen het die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, deursigtigheid van kredietgraderingsagentskappe versoek en ontwikkelende lande aangespoor om gebrekkige metodologieë te bevraagteken.
# Rusland sê baie vrae moet opgelos word voordat president Vladi,mir Putin en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump kan vergader, insluitend wie in elke onderhandelingspan sal wees. Die Kremlin se woordvoerder, Dmitry Peskov, sê sy minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, en sy Amerikaanse eweknie, Marco Rubio, sal hieraan begin werk. Volgens Peskov kan die ontmoeting tussen Trump en Putin binne twee weke, of kort daarna, plaasvind.
# Motorsport: Die Internasionale Motorfederasie het die naweek se Formule Een Grand Prix in Amerika verklaar tot ‘n wedren met gevaarlike hittetoestande te midde van hoë temperature in Austin. Temperature in Sentraal-Texas sal na verwagting tydens môre se snelren en Sondag se wedren tot bo die perk van 31-grade Celsius styg. Dit is die tweede agtereenvolgende wedren waar renjaers die keuse sal hê om verkoelings-frokkies te dra, soos in die Singapoerse Grand Prix vroeër die maand. Dit sal van volgende jaar ‘n verpligte kenmerk wees in wedrenne met hitte-waarskuwings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-837-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-297-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….