Nuus 16:00
BULLETIN 15 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eugene de Kock is te siek om in geregtelike doodsondersoek na Cradock Vier te getuig
# Sokker: Bafana fokus nou op die Afrikabeker en die Wêreldbeker
# En Kaapstad is amptelik die derde gelukkigste stad ter wêreld
# Die voormalige bevelvoerder van Vlakplaas, Eugene de Kock, sal nie in die geregtelike ondersoek na die dood van die Cradock Vier getuig nie weens swak gesondheid. Die Hooggeregshof in Gqeberha het sy verhoor hervat na die moord op die anti-apartheidsaktiviste Matthew Goniwe, Fort Calata, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkhonto in 1985. Hul verkoolde liggame is naby die stad gevind. De Kock sou vandag getuig, maar die prokureur Howard Varney het die hof gevra om voort te gaan ondanks sy afwesigheid:
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het ‘n hersieningsaansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien nadat landdros Vusumuzi Mahlangu homself onttrek het aan die saak oor Misdaadintelligensie-baas Dumisani Khumalo en twee ander senior polisiebeamptes. Mahlangu het bedank na bewerings teen die regbank voor die Madlanga-kommissie. ‘n Woordvoerder vir die direktoraat, Henry Mamothame, sê die Pretoriase Streekshof het die saak tot 6 November uitgestel hangende die hersieningsuitslag:
Nuus uit die buiteland:
# Ses vermeende dwelmsmokkelaars is dood in ‘n Amerikaanse aanval op ‘n boot naby die kus van Venezuela. Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê intelligensie het bevestig die boot het dwelms vervoer. Dit is die vyfde aanval sedert die begin van September na die Pentagon se aankondiging van Trump se beslissing dat Amerika in ‘n gewapende konflik met dwelmkartelle is. Trump het vroeër gesê die kartelle is ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid. Deskundiges meen egter die verduideliking vir die vernietiging van die bote voldoen nie aan die vereistes ingevolge oorlogswette nie.
# Sokker: Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, sê die fokus is op die toekoms, met Bafana Bafana wat voorberei vir die Afrikabekertoernooi in Marokko en volgende jaar se Wêreldbekertoernooi, terwyl die onder-17-span na Katar reis. Jordaan het na 2010 se Wêreldbeker verwys as ‘n herinnering aan Suid-Afrika se sokkerreis. Hy het beklemtoon dat Bafana vorentoe beweeg ondanks ‘n onsuksesvolle appèl teen FIFA wat hom met drie punte gestraf het vir die gebruik van ‘n geskorste speler:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-950-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-180-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is amptelik die wêreld se derde gelukkigste stad. TimeOut se geluksaanwyser is deel van die tydskrif se jaarlikse internasionale peiling om die wêreld se gelukkigste stad te bepaal. Dit word gegrond op faktore soos kultuur, naglewe, kos, staproetes, lewensgehalte en geluk. Die hoofstad van die Verenigde Arabiese Emirate, Abu Dhabi, is vanjaar se wenner, gevolg deur Medellin in Colombië. Mexikostad is vierde en Mumbai in Indië vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….