Nuus 16:00
BULLETIN 14 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie staak Getuie X se getuienis weens veiligheidsoorwegings tydens tegniese probleme
# Limpopo se premier versoek gesinne om geliefdes te identifiseer ná die busongeluk in Makhado
# En rugby: Plumtree besef die erns van die Haaie se volgende twee tuiswedstryde
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria het Getuie X se getuienis onderbreek weens tegniese probleme wat die persoon se veiligheid in gevaar kon stel. Die voorsitter van die kommissie, afgetrede adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga, sê hoewel deursigtigheid belangrik is, kan getuies nie in gevaar gestel word nie. Madlanga het beslis dat Getuie X se getuienis in ‘n ander formaat aangebied sal word, met die getuienisleier wat die verklaring vir die rekord sal voorlees:
# Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, het gesinne versoek om geliefdes te identifiseer wanneer lykskouings môre begin ná Sondag se busongeluk in Makhado. Sy het bevestig die dodetal het tot 43 gestyg, terwyl 45 mense beseer is. Die bus was van die Oos-Kaap na Zimbabwe en Malawi onderweg toe die bestuurder beheer verloor het op die N1 in die bergagtige Jambuzi-vallei. Ramathuba bevestig ook owerhede gaan voort om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die provinsie se toerismesektor vir plesiervaarte het in 2024/25 meer as ‘n miljard-rand tot die provinsiale ekonomie bygedra, ‘n toename van 36-persent teenoor die vorige jaar. Noko Masipa van die party sê met 127-duisend passasiers en 83 bote, ondersteun die sektor meer as twee-duisend werknemers. Masipa sê groei het uitgebrei na kusdorpe soos Mosselbaai, Hermanus en Saldanhabaai, wat dui op toerisme se bydrae met die skep van geleenthede vir klein ondernemings en gemeenskappe:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sal die seremoniële ondertekening van ‘n vredesooreenkoms tussen Thailand en Kambodja by ‘n komende beraad bywoon. Spanning tussen die lande het in Julie in die dodelikste militêre botsings in dekades ontaard, met meer as 40 mense wat gesterf het en bykans 300-duisend het uit hul huise gevlug. Die twee lande het ‘n ooreenkoms oor ‘n wapenstilstand bereik, deels bemiddel deur Trump, na vyf dae van gevegte. Trump sal Maleisië op 26 Oktober besoek om die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies se spitsberaad by te woon.
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, John Plumtree, besef hoe belangrik dit is vir sy span om die volgende twee Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryde tuis te wen. Hulle het in hulle laaste drie wedstryde oorsee teen Glasgow en Leinster verloor en gelykop gespeel teen Dragons. Die Haaie speel Saterdag teen Ulster, gevolg deur ‘n wedstryd teen Scarlets voordat hulle weer na Europa reis om teen Connacht te speel. Plumtree sê die Haaie is verlede naweek in Ierland ore aangesit deur die verdedigende kampioen, Leinster. Hulle is tans 13de op die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-226-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….