Nuus 16:00
BULLETIN 23 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die taakspan vir politieke moorde het misdaadsindikate blootgelê wat senior polisiebeamptes beskerm
# Siviwe Gwarube doen stappe om leerders te beskerm te midde van mishandeling en ontwrigtings
# En, die Parlement se Gekose Komitee vra die Nasionale Krisisberaad moet werksverliese beperk
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê die taakspan vir politieke moorde het kragtige misdaadsindikate ontbloot, wat deur senior polisiebeamptes beskerm is. Masemola het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê die eenheid se ondersoeke het aan die lig gebring hoe georganiseerde netwerke met behulp van hooggeplaaste amptenare in wetstoepassing gewerk het. Hy sê die bevindings het uitgebreide korrupsie in politieke moorde blootgelê en toon ook die sleutelrol wat die taakspan gespeel het om baasbreine agter teikenmoorde aan die lig te bring:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het dringende stappe gedoen om leerders te beskerm ná berigte van seksuele mishandeling in Oos-Kaapse skole sowel as ontwrigtings deur die Dudula-beweging. Sewe opvoeders by St John’s College is geskors na beskuldigs van mishandeling en daar word ondersoek ingestel by JS Skenjana Senior Secondary. Gwarube se woordvoerder, Terence Khala, beklemtoon skole moet alle seksuele oortredings aanmeld en het onderneem dat skuldiges vervolg sal word:
# Die voorsitter van die Parlement se Gekose Komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel, Sonja Boshoff, vra dat ‘n Nasionale Krisisberaad ‘n oplossing vind vir Suid-Afrika se toename in werksverliese. Boshoff sê die beraad moet die regering en die sake- en arbeidsektor byeenbring om oplossings te vind, insluitend verligting vir die hoë koste van elektrisiteit en vragvervoer, sterker lokalisering van ondernemings en handelsmiddele. Sy waarsku dat massa-afleggings in veral die Oos-Kaap, Gauteng en die Vrystaat die land se nywerheidstoekoms en lewens bedreig.
# Die Verenigde Nasies sê Russiese owerhede het burgerlike aangehoudenes in besette Oekraïnse gebiede gemartel en aan seksuele geweld onderwerp. Die VN se Menseregte-kantoor het in ‘n nuwe ondersoek ‘n patroon van ernstige skendings van internasionale wetgewing deur Rusland teen burgerlike aangehoudenes van Oekraïne bevind. VN-ondersoekers het volgens die verslag onderhoude met 216 burgerlikes gevoer wat sedert Junie 2023 in die besette gebiede uit aanhouding vrygelaat is. ‘n Volle 92-persent van hulle se uitvoerige weergawe van die gebeure het ooreengestem en op marteling en mishandeling tydens aanhouding gedui.
# Krieket: Die geliefde voormalige toetsskeidsregter, Harold “Dickie” Bird is in die ouderdom van 92 dood. Bird was een van die bekendste en mees gerespekteerde beamptes in die spel en was skeidsregter in 66-toetse en 69-eendag, internasionale wedstryde, insluitend drie wêreldbekereindstryde. Yorkshire het ‘n verklaring op hulle webblad geplaas waar hulle hom beskryf as: “een van krieket se mees beminde karakters” en sê hy is rustig by sy huis oorlede. Bird het vir die graafskappe Yorkshire en Leicestershire krieket gespeel, maar het as internasionale skeidsregter beroemd geword.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-996-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-781-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….