Nuus 16:00
BULLETIN 18 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie word gewaarsku oor toenemende politieke geweld voor 2026 se plaaslike verkiesing
# Die Solidariteit-beweging begin met ‘n Amerikaanse buitelandse sending
# En rugby: James O’Connor keer terug na Australië vir die twee toetse teen die All Blacks
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel is gewaarsku oor die gevaar van toenemende politieke geweld voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het bewyse getoon wat die voortdurende uitdagings in die hantering van politieke moordsake uitlig, insluitend vertraging met vervolging. Hy het ook verwys na ‘n brief van die provinsiale direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, wat waarsku die verkiesing kan politieke geweld ontlok:
# Die Solidariteit-beweging het ‘n uitgebreide gemeenskapsbesoek aan Amerika van stapel gestuur. Die voorsitter, Flip Buys, sê die regering en die ANC het bande met Washington beskadig en kan nie vertrou word om alleen die verhoudings te herstel nie. Die afvaardiging sal federale en staatsrolspelers ontmoet om voorspraak vir die ekonomie en werkers te doen. Buys voer aan swak diplomasie benadeel gewone Suid-Afrikaners en die burgerlike samelewing moet help om die vertroue te herbou:
# Tax Justice South Africa waarsku die inhegtenisneming van vyf Weermag-lede wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om onwettige sigarette te steel, dui op diep-gewortelde korrupsie op Suid-Afrika se grense. Die soldate en twee Zimbabwiese burgers, is naby die Limpoporivier aangekeer en het vandag in Musina se Landdroshof verskyn op aanklagte wat korrupsie en die besit van onwettige sigarette insluit. Die stigter, Yusuf Abramjee, sê wanneer soldate daarvan beskuldig word dat hulle smokkelgoedere in hulle eie kampe wegsteek, is dit ‘n aanduiding dat georganiseerde misdaad reeds die Weermag binnegedring het.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika werk saam met die B20 om veerkragtige, inklusiewe en volhoubare voedselstelsels te finansier. B20 is die amptelike G20-dialoogforum van die wêreld se sakegemeenskap. Steenhuisen sê die B20 Volhoubare Voedselstelsel- en Landboutaakmag het ‘n pragmatiese platform vir hierdie samewerking gebou. Hy sê té veel gesinne ondervind voedselonsekerheid terwyl produsente, veral vroue, die jeug en kleinhoewe-eienaars, sukkel om finansiering te kry wat hulle sal toelaat om te vernuwe, aan te pas en te gedy.
# Rugby: Die losskakel James O’Connor se hoop om weer vir die Wallabies te speel, bestaan steeds nadat hy gekies is in die groep vir die laaste twee Rugbykampioenskapstoetse teen die All Blacks. Die 35-jarige het Maandag na sy nuwe Engelse klub, Leicester, vertrek nadat hy die eerste keer in drie jaar weer vir die Wallabies gespeel het. Die stut James Slipper kan slegs die derde speler naas die Wallieser Alun Wyn Jones en die voormalige All Black Sam Whitelock word om 150 toetse te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-328-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-670-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….