Nuus 16:00
BULLETIN 17 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusimuzi “Cat” Matlala word borgtog geweier in die Tebogo Thobejane-saak
# Die DA waarsku oor die verergerende kinder-hongersnoodkrisis
# En Israel open ‘n tydelike roete vir mense om uit Gaza-stad te vlug
# Die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala bly in aanhouding nadat die Alexandra-Landdroshof in Gauteng hom borgtog geweier het. Matlala word daarvan beskuldig dat hy in 2023 ’n sluipmoordpoging gereël het op sy voormalige vriendin, die aktrise Tebogo Thobejane. Hy, sy vrou en drie ander staan tereg op aanklagte van poging tot moord, korrupsie en geldwassery. Landdros Syta Prinsloo het beslis dat Matlala ‘n vlugrisiko is weens buitelandse bates en ‘n bedrieglike identiteitsdokument. Sy het die saak tot 7 Oktober uitgestel:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het die Madlanga-kommissie van ondersoek meegedeel dat die strafregstelsel heeltemal kan verbrokkel as korrupsie en politieke inmenging nie aandag kry nie. Mkhwanazi, wat eerste getuig, sê sy nuuskonferensie van 6 Julie het die gesamentlike bekommernisse van polisiebeamptes oor sabotasie en wanpraktyke binne die stelsel weerspieël. Hy het ook die ontbinde taakspan oor politieke moorde verdedig en gesê dit het noemenswaardige suksesse behaal ondanks kritiek:
# Die DA is bekommerd oor Suid-Afrika se kinderhongersnood-krisis en sê dit is ‘n landwye tragedie. Slegs verlede jaar is 766 kinders onder vyf jaar in openbare hospitale in die land dood aan wanvoeding-verwante oorsake. Sedert Mei vanjaar is 45 kinders net in die Oos-Kaap dood weens wanvoeding. Bridget Masango van die DA sê elkeen van die sterftes is ‘n jong lewe wat kortgeknip is, en laat ‘n gesin na wat treur en ‘n toekoms wat gesteel is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Israelse Weermag sê hy het ‘n nuwe tydelike roete geopen vir mense om uit Gaza-stad te vlug, terwyl hy voortgaan met ‘n grootskaalse grondaanval om Hamas te vernietig. Die Weermag het gister voor dagbreek ‘n reuse-bombardement op Gaza-stad begin en soldate dieper in die strook se grootste stedelike gebied ingestuur. Dit kom te midde van ‘n ondersoek deur die Verenigde Nasies wat Israel beskuldig het van volksmoord in die Palestynse streek en beweer dat eerste minister Benjamin Netanyahu en ander senior ampsdraers dié misdaad aangehits het.
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam Fifa het aangekondig dat 6,1-miljard-rand aan klubs versprei gaan word vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika – ‘n verhoging van bykans 70-persent teenoor die vorige toernooi in Katar in 2022. Dit is deel van Fifa se uitgebreide klubvoordeleprogram, waar klubs vergoed word wanneer spelers vrygestel word om aan kwalifiseerders en die eindtoernooi deel te neem. Fifa se president, Gianni Infantino, sê die projek gee finansiële erkenning vir die bydrae wat klubs en spelers maak deur die kwalifiseerders en die toernooi self aan te bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-360-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-670-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….