Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA Jeug verwelkom minister Dlamini-Zuma se besluit om af te tree
# Die Posbank verseker SASSA-begunstigdes opnuut van die geldigheid van goue kaarte vir 2024
# En, krieket: ActionSA sê ‘n gebrek aan deursigtigheid bestaan oor David Teeger se rol
# Die DA Jeug het die minister van Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede, Nkosazana Dlamini-Zuma, se aankondiging verwelkom dat sy beoog om af te tree. Die woordvoerder, Lindokuhle Sixabayi, sê Dlamini-Zuma het – soos haar voorgangers – niks merkbaar gedoen sedert haar aanstelling aan die begin van 2023 om oplossings te bied vir kwessies waarmee jongmense stoei nie. Sixabayi glo dit spruit uit die ANC se onbevoegdheid en verwaarlosing:
# Die Posbank het begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap, SASSA, opnuut verseker dat hul goue kaarte wat verval het, vir die res van 2024 geldig is. Die bank maan begunstigdes om hulle nié aan vals inligting te steur nie. Hy beklemtoon dat slegs die Posbank dié kaarte kan vervang. Die bank se woordvoerder, Bongani Diako, sê hoewel die Poskantoor tussen nou en Maart kontantdienste by takke sal beëindig, kan mense wie se kaarte verlore of gesteel is, steeds nuwe kaarte by takke kry:
# ‘n Studie deur die Australian National University dui aan die rekord-hittevlakke wat in 2023 ondervind is, het ‘n aansienlike uitwerking gehad op die globale watersiklus. Dit het gelei tot erge storms, oorstromings, mega-droogtes en bosbrande. Die bevindinge, wat nog bevestig moet word deur mede-navorsers, word uiteengesit in ‘n nuwe verslag wat vrygestel is deur die Global Water Monitor Consortium en gelei is deur navorsers by die universiteit. Stygende see- en lug-temperature, en meer intense moeson-toestande, siklone en ander stormstelsels, word toegeskryf aan fossielbrandstofverbranding. Die hoofskrywer, Albert van Dijk, beklemtoon sommige van die ergste rampe in 2023 is die gevolg van klimaatsverandering.
#Krieket: ActionSA vra die president van Krieket Suid-Afrika, Rihan Richards, om te reageer op kommer oor die jongste verwikkelinge wat vrae laat ontstaan het oor deursigtigheid en konsekwentheid. Die partye sê duidelike teenstrydighede kom voor in KSA se besluite, veral oor die kapteinskap van die onder 19-span. Dit volg nadat die Joodse speler David Teeger van sy kapteinskap ontneem is vir die Wêreldbekertoernooi. Tsepo Mhlongo van Action SA sê die situasie rakende die belowende jong talent skep verwarring omdat hy glo steeds in die span is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-899-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-37-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-87-sent per vat.
# Ten slotte: Die musiek-ikoon Elton John het die19de persoon geword wat die sogenaamde EGOT-titel verwerf het deur al vier groot vermaaklikheidstoekennings in te palm, naamlik ‘n Emmy, ‘n Grammy, ‘n Oscar en ‘n Tony. John het dié prestasie op die 75ste Emmy-toekennings behaal toe sy spesiale uitsending op Disney Plus, Elton John Live: Farewell from Dodger Stadium, die toekenning ontvang het vir uitstaande verskeidenheidsprogram. Hy spog nou met twee Oscars, vyf Grammys, ‘n Tony en ‘n Emmy. Dié Rocket Man bevind hom nou in die uitgelese geselskap van onder andere Mel Brooks, Whoopi Goldberg en Audrey Hepburn.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….