Nuus 16:00
BULLETIN 16 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof verwerp die Lungu-familie se aansoek om die Appèlhof te nader
# BOSA sê Godongwana moet verduidelik oor die nuwe raad van die Openbare Beleggingskorporasie
# En Israel doen sy langverwagte grondaanval op Gaza-stad
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Lungu-familie se aansoek om appèl teen ‘n uitspraak wat Zambië toelaat om president Edgar Lungu se oorskot vir ‘n staatsbegrafnis te repatrieer, met koste van die hand gewys. Lungu is op 5 Junie in ‘n hospitaal in Pretoria dood waar hy behandeling ontvang het. Sy familie het versoek dat hy in Suid-Afrika begrawe word ná geskille met die Zambiese regering. Die hof het gelas begrafnisregte val onder Zambiese wetgewing, nie Suid-Afrikaanse wetgewing nie, en daar is geen dwingende redes vir die Appèlhof om die saak aan te hoor nie.
# Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, het in ‘n brief aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aangedring op algehele deursigtigheid oor die raad van die Openbare Beleggingskorporasie. Woordvoerder Roger Solomons sê die nuwe nie-uitvoerende direkteure is aangestel sonder enige verduideliking of geen openbare raadpleging nie. Hy sê dit is buitengewoon dat ‘n raad wat toesig gehou het oor die groei van die bates van twee-duisend-miljard-rand tot 3,9-duisend-miljard-rand, skielik en stilweg vervang word:
# City Power in Johannesburg het herhaal dat hy geen verdraagsaamheid sal toon teen kabeldiefstal en interne samespanning nie. Dit volg ná die onlangse inhegtenisneming van drie geskorste werkers van die Roodepoort-diensleweringsentrum wat met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het. Verlede week is vyf mense in Johannesburg aangekeer vir kabeldiefstal. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê hulle is vasberade om hierdie misdadigers vas te vat, noodsaaklike infrastruktuur te beskerm en aanspreeklikheid op alle vlakke te verseker:
Nuus uit die buiteland:
# Israel het vroegoggend sy langverwagte grondaanval op Gaza-stad geloods, kort nadat die besoekende Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, Israel se doelwit goedgekeur het om Hamas in Gaza te vernietig. ‘n Ondersoek van die Verenigde Nasies het Israel intussen aangekla van volksmoord in die Palestynse streek, en eerste minister Benjamin Netanyahu en ander senior ampsdraers van aanhitsing. Die Weermag het gedurende die nag ‘n reuse-aanslag op Gaza-stad ontketen, met Israelse soldate wat verder inbeweeg het in die streek se grootste stedelike gebied.
# Rugby: Die Wallabie-losskakel James O’Connor wil na Australië terugkeer vir die twee Bledisloe- en Rugbykampioenskapstoetse teen die All Blacks. Die 35-jarige het na die Engelse klub Leicester Tigers vertrek, waar hy sou aansluit na die reeks teen die Britse en Ierse Leeus, maar hy het weens beserings in die groep gebly. Hy het dié seisoen die eerste keer in drie jaar vir Australië gespeel, maar is weggelaat nadat Tom Lynagh en Ben Donaldson teruggekeer het. O’Connor sê hy sal bitter graag teen Nieu-Seeland wil speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-50 teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-427-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-689-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….