Nuus 16:00
BULLETIN 15 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer ondersoek die Padongelukkefonds se uitvoerende hoof oor ‘n gepantserde BMW van vier-miljoen-rand
# Rubio vergader met Netanyahu oor Israel se lugaanval in Katar
# En rugby: ‘n Franse flank word uitgewys omdat sy na bewering ‘n Ierse teenstander gebyt het in die Vroue-Wêreldbekertoernooi
# Die Openbare Beskermer gaan die beleërde uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, ondersoek oor bewerings dat hy oor drie jaar meer as tien-miljoen-rand aan veiligheidsmaatreëls bestee het. Bewerings sluit ook ‘n gepantserde BMW-X5 van vier-miljoen-rand en die indiensneming van nege lyfwagte in. ‘n Verklikker beweer van die wagte beskerm sy gesin. Dit maak van hom die mees beskermde hoof van ‘n staatsonderneming met meer veiligheid as ministers. Letsoalo beweer dit is geregverdig ná dreigemente rakende sy werk teen bedrog, maar die Departement van Vervoer sê geen dreigemente is aangemeld nie.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê aansoeke vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vir die volgende akademiese jaar open môre met ‘n nuwe vereenvoudigde digitale stelsel. Manamela het aan die media gesê die stelsel is ontwerp om goedkeurings te bespoedig en foute te verminder, wat dit vir studente makliker maak om aanlyn aansoek te doen. Hy sê die proses het ‘n strenger sperdatum om alles af te handel voor klasse begin:
# Die DA in Gauteng het sy kommer uitgespreek oor die toename in seksuele aanranding en tienerswangerskappe, wat volgens hom ‘n pandemiese vlak bereik het. Meer as 23-duisend-691 tienerswangerskappe is in 2024 in die provinsie aangemeld. Intussen is 521 babas van ma’s tussen 10 en 14 jaar in ‘n gesondheidsinstelling gebore. Solly Msimanga van die DA sê die hoë aantal swangerskappe in dié ouderdomsgroep is uiters kommerwekkend, omdat dit uit statutêre verkragting spruit:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het ongemak uitgespreek teenoor die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, oor lugaanvalle op Katar wat dreig om die reeds sukkelende wapenstilstandspoging in Gaza te laat ontspoor. Israel se belangrikste bondgenoot het ‘n solidariteitsbesoek gereël ‘n week voor ‘n Frans-geleide beraad by die Verenigde Nasies om ‘n Palestynse staat te erken. President Donald Trump se administrasie is verlede week onkant betrap deur die Israelse aanvalle op Hamas-leiers wat in Katar vergader het om ‘n nuwe Amerikaanse wapenstilstands-voorstel te bespreek.
# Rugby: Die Franse flank Axelle Berthoumieu kan ‘n lang skorsing verwag as sy daaraan skuldig bevind word dat sy ‘n Ierse teenstander, Aiofe Wafer, gebyt het tydens hulle kwarteindstryd van die Vroue-Wêreldbekertoernooi in Exeter, England. Ierland se kaptein, Sam Monaghan, het die kwessie onder die skeidsregters se aandag gebring, maar daar is nie op die veld opgetree nie. Berthoumieu verskyn vandag voor ‘n tugkomitee. Die straf vir ‘n lae intensiteits-byt-oortreding is ‘n skorsing van 12-weke. Frankryk het 18-13 gewen en speel Saterdag in die halfeindronde teen die gasvrou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-37 teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-960-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-638-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….