Nuus 16:00
BULLETIN 10 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika dring aan op ‘n tweestaat-oplossing in die Midde-Ooste
# Rugby: Die Springbok-vroue is gereed vir die geskiedkundige kwarteindstryd teen Nieu-Seeland
# En Hongkongse wetgewers verwerp ‘n wetsontwerp wat selfdegeslag-paartjies beperkte regte toestaan
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het weereens in die Parlement bevestig dat Suid-Afrika steeds ‘n tweestaat-oplossing tussen Israel en Palestina steun. Hy beklemtoon die bevordering van die internasionale reg, aanspreeklikheid, regverdige vrede, ‘n onmiddelike wapenstilstand en die vrylating van gyselaars. Lamola vra ook die beeïndiging van onwettige Israelse nedersettings, die verwydering van die skeidsmuur en die hervatting van humanitêre hulpverlening aan Gaza:
# Die vakbondfederasie Saftu het sy diep kommer uitgespreek oor die hardnekkige trae en onvolhoubare ekonomiese groei in die tweede kwartaal van vanjaar. Woordvoerder Asive Dyani sê die ekonomie het met ‘n karige 0,8-persent gegroei, met mynbou wat met 3,7-persent toegeneem het, en handel met 1,7-persent. Sy sê dit spruit uit die regering se weiering om Suid-Afrika weg van die koloniale era te verskuif:
# Eskom het sy eerste vloot van 20 elektriese voertuie bekendgestel as deel van sy oorgang na skoner energie. Die voertuie, wat wissel van afleweringsvoertuie tot ligte vragmotors, sal hoofsaaklik in die verspreidings- en opwekkingsafdelings gebruik word om koste te besnoei en uitstralings te verminder. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit is die begin van ‘n langtermynplan om die vloot teen 2035 ten volle elektries te maak, met 55 openbare laaistasies wat binne die volgende twee jaar bygevoeg sal word:
# Rugby: Die Springbok-Vrouelegende Sinazo Mcatshulwa sal Saterdag haar 42ste wedstryd vir Suid-Afrika speel wanneer hulle Nieu-Seeland in Exeter, Engeland, aandurf in die kwarteindronde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi. Die span is sonder Chumisa Qawe wat geskors is nadat sy ‘n rooikaart teen Frankryk gekry het. Daar word verwag dat die span môre aangekondig sal word, met Mcatshulwa wat hoop om die nommer sewe-trui te dra. Sy sê die span is opgewonde dat hulle die kwareindronde gehaal het en dit is goed vir hulle selfvertroue.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-697-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-649-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Hongkongse wetgewers het ‘n wetsontwerp verwerp wat beperkte regte aan selfdegeslag-paartjies sou toestaan. Die streeksregering het wetgewing voorgestel wat sekere regte aan selfdegeslag-lewensmaats sou erken, maar slegs aan verbintenisse wat in die buiteland geregistreer is. LGBTQ-aktiviste het die beperkings afgekraak terwyl die voorstel bykans algehele kritiek van pro-Beijingse politici gekry het wat die Hongkongse wetgewer oorheers. Die wetgewing sou aan geregistreerde selfdegeslag-paartjies meer regte gee met mediese sake en na-doodse reëlings, soos om ‘n lewensmaat in die hospitaal te besoek of die liggaam na afsterwe te eis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….