Nuus 16:00
BULLETIN 5 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit vra Ramaphosa vir dringende optrede oor die dreigende krisis met werksverliese
# Vier negejarige seuns in hegtenis geneem vir KZN-huisinbraak
# En, swaar verkeer word hierdie naweek op N1 en N3 verwag te midde van godsdienstige pelgrimstogte
# Die vakbond Solidariteit vra president Cyril Ramaphosa om self in te gryp om waarna verwys word as ‘n dreigende bloedbad van werksverliese te verhoed. Solidariteit sê bykans 250-duisend poste word bedreig nadat groot maatskappye, insluitend Glencore, ArcelorMittal en Goodyear, kennis gegee het van afleggings. Die adjunkhoofsekretaris, Willie Venter, sê wêreldwye druk en regeringsfoute, soos Eskom se tariefverhogings en Transnet se vernietigde infrastruktuur, moet die skuld kry. Hy sê dringende maatreëls is nodig om massa-afleggings te keer:
# Reaction Unit South Africa het vier negejarige seuns in Hazelmere, KwaZulu-Natal in hegtenis geneem nadat ‘n vroue-inwoner hulle gisteroggend betrap het waar hulle by haar huis inbreek. Die seuns word in voorlopige ondersoeke verbind met ‘n reeks plaaslike inbrake by huise en snoepwinkels, met gesteelde goedere wat selfone, kontant en elektronika insluit. Owerhede ondersoek die saak, maar volgens die Kinderbeskermingswet mag die seuns nie geïdentifiseer word nie. Die Hazelmere-gemeenskap vra intussen ondersteuningsprogramme om bewusmaking oor misdaadvoorkoming en waaksaamheid te verhoog ten einde probleemgedrag te bekamp.
# Die Padverkeersbestuurskorporasie het motoriste gewaarsku teen swaar verkeer op die N1 en N3 hierdie naweek as gevolg van groot godsdienstige pelgrimstogte en feeste. Die N1-noord sal besig wees met pelgrims wat na Moria in Limpopo reis vir die Zion Christian Church se byeenkoms, terwyl die N1-suid besige toestande kan verwag op pad na die Mangaung Kultuurfees in die Vrystaat. Die N3 sal na verwagting ook bedrywig wees met lidmate van die Shembe-kerk wat op pad is na Harrismith in die Vrystaat. Motoriste word versoek om geduldig en versigtig te wees en verkeerswette te gehoorsaam.
# Die Kabinet het die vordering nagegaan van fase-twee van die Lesotho Hooglandwaterprojek wat Gauteng se watervoorsiening met verseker. Konstruksiewerk aan die Polihali Dam en die oordragtonnel is aan die gang, met watertoevoer wat na verwagting in 2028 sal begin. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die projek sal na verwagting teen 2029 voltooi wees. Dit sal Rand Water in staat stel om voorsiening aan Gauteng-munisipaliteite te verhoog en aan die provinsie se groeiende waterbehoeftes te voldoen:
# Rugby: Slegs een kwarteindplek is nog beskikbaar tydens die naweek se laaste groepwedstryde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi in Engeland. Suid-Afrika, die gasvroue, Frankryk, Nieu-Seeland, Skotland, Kanada en Ierland het reeds hulle plekke bespreek in die uitspeelronde. Australië en Amerika spook sake uit om te kwalifiseer uit Groep A. Die Springbokke speel Sondagmiddag hulle laaste groepswedstryd teen Frankryk in Southampton. Die kwarteindstryde vind volgende naweek plaas, die halfeindstryde ‘n week later en die eindstryd die 27ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-612-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-582-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….