Nuus 16:00
BULLETIN 4 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lamola bevestig Amerikaanse gesprekke te midde van ‘n reis na die Algemene Vergadering van die VN
# ActionSA moedig Parlement aan om die poste-krisis in die vervaardigingsektor te bespreek
# En rugby: Twee spanne van die Haaie speel môre in Durban
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê sy komende reis na Amerika val saam met die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering, waar gesprekke sal fokus op handel en tariewe. Lamola het met SABC News gepraat tydens die Thabo Mbeki-stigting se dialoog en beklemtoon al duur gesprekke met Amerikaanse belanghebbendes voort, moet Suid-Afrika vir die ergste voorberei. Hy beklemtoon die regering moet ‘n uiteenlopende mark versnel om potensiële tariefuitwerkings op plaaslike ondernemings te verminder:
# ActionSA het gevra vir ‘n dringende debat oor Suid-Afrika se werkkrisis. Die sluiting van ArcelorMittal se langstaalaanleg bedreig drie-duisend-500 poste, terwyl afleggings by Ford, Goodyear, Glencore en Merafe duisende werkers raak. Michael George van ActionSA moedig die Parlement aan om ministers, vakbonde, bedryfsleiers en betrokke werkers te betrek. Hy sê hulle moet ingrypings bespreek, insluitend energiehervormings, finansiële ondersteuning, heropleiding en maatskaplike beskerming om voortbestaan en bedryfsmededingendheid te verseker:
# Die kommissie van ondersoek na die brand in die Usindiso-gebou sê Johannesburg se behuisingskrisis word veroorsaak deur armoede en te min bekostigbare behuising, nie net gekaapte geboue nie. Minstens 77 mense het in 2023 in die brand gesterf. Die kommissie, onder leiding van regter Sisi Khampepe, het 110 eiendomme ondersoek en bevind byna 80-persent hou ernstige brandgevare in. Die meeste is sonder water, elektrisiteit en sanitasie. Die kommissie beskuldig die stad dat hy nie behuising voorsien nie en toelaat dat meer as 30-duisend huishoudings in onveilige toestande leef.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse minister van Verdediging, John Healey, sê die Verenigde Koninkryk en sy bondgenote is gereed om Oekraïne te ondersteun voor onderhandelings om die oorlog te beëindig, sowel as om ‘n uiteindelike vredesooreenkoms te verseker. Hy het aan die BBC gesê Oekraïne se bondgenote sal help om die lugruim, see en land te beveilig sodra ‘n vredesooreenkoms gesluit is. Franse diplomate sê tegniese werk aan veiligheidswaarborge is nou voltooi in die geval van ‘n wapenstilstand. Die Russiese president, Vladimir Putin, het intussen beloof sy volskaalse inval kan voortduur.
# Rugby: Twee Haaie-spanne sal môreaand teen Saracens en die Pumas speel in wedstryde op Kingspark in Durban. Baie Verenigde Rugbykampioenskap-spelers en selfs Springbokke sal te sien wees. Die voorry-tweeling, Kayden en Cohen Kiewit, sal teen Saracens skrum. Jason Jenkins en Tino Mavesere is onder die voorspelers en Lukhanyo Am is op die bank. Die span wat teen die Pumas speel sluit Phepsi Buthelezi en die broers Manu en Vincent Tshituka as ervare losvoorspelers in. Die wedstryd teen Saracens skop vier-uur af, gevolg deur die Curriebeker-kragmeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-975-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-544-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….