Nuus 16:00
BULLETIN 3 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskuldig Ramaphosa dat hy die Kaapse Vlakte versaak te midde van toenemende bloedvergieting
# Murray en Roberts verkry ‘n bykomende 80-miljoen-rand se befondsing vir sakeredding
# En rugby: Meer Suid-Afrikaanse vroue-franchises word vir volgende jaar beplan
# Die MK-party sê die Kaapse Vlakte in Kaapstad het in ‘n moordsone ontaard, maar president Cyril Ramaphosa en die regering van nasionale eenheid doen niks nie. Die party beweer die staat het beheer oor die gebied verloor, met dwelmkartelle en krygshere wat inwoners terroriseer terwyl onskuldige mense, insluitend kinders, daagliks vermoor word. Die woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, waarsku indien Ramaphosa nie ‘n noodtoestand afkondig nie, kan gemeenskappe gedwing word om hulself te beskerm:
# Die Suid-Afrikaanse ingenieurs- en kontrakteringsgroep van maatskappye, Murray en Roberts, se sakereddingspraktisyns het ‘n bykomende 80-miljoen-rand se finansiering verkry. Die groep is in November verlede jaar vrywillig in sakeredding geplaas. Praktisyn Josh Cunliffe sê befondsing was tot nou instrumenteel in die bestendiging van Murray en Roberts se voortgesette sakereddingspogings. Hy sê daarby het die befondsing hulle ook gehelp om noodgedwonge afleggings te bestuur en wettige afleggingsverpligtinge teenoor werknemers na te kom:
# Die ANC sê hy salueer die Suid-Afrikaanse aktiviste wat aangesluit het by die afvaardiging in die grootste burgerlike maritieme sending in solidariteit met die Palestynse volk. Die party het die sending beskryf as ‘n geweldlose standpunt teen Israel se blokkade van Gaza en ‘n kragtige verklaring vir geregtigheid en menseregte. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die sending weerspieël Suid-Afrika se eie bevrydingstryd. Bhengu het die regering versoek om sy volle steun te bied aan burgers wat aan hierdie internasionale solidariteitsending deelneem.
# Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het sy verkiesings-waarnemingsending ontplooi na Malawi se algemene verkiesing wat op 16 September plaasvind. Die sending, onder leiding van die voormalige adjunk-eerste minister van Eswatini, Themba Masuku, sal die presidents-, parlementêre en plaaslike verkiesing in al 28 wyke monitor. Waarnemers sal bedrywighede voor die verkiesing, op stemdag en na-verkiesingsprosesse nagaan om ‘n vrye, regverdige en geloofwaardige verkiesing te verseker. Die sending begin amptelik môre en ‘n voorlopige verklaring word op 18 September verwag.
# Rugby: Die afrigter van die Springbok-vrouespan, Swys de Bruin, sê talle planne lê volgende jaar voor vir vrouerugby in Suid-Afrika, insluitend meer beroeps-franchises. Die Bulle Daisies is tans die enigste een. De Bruin sê die gaping tussen mans- en vrouespanne is steeds reusagtig groot. Die gewese nasionale vroueafrigter, Stanley Raubenheimer, glo Suid-Afrika het ‘n goudmyn wat ernstig ontgin moet word. Die Bokvroue het verlede naweek die eerste keer vir die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-623-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-543-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….