Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stad Tshwane bly op ‘n hoë gereedheid vir ‘n moontlike cholera-uitbreking
# George-inwoners word gemaan oor rooigety
# En, tennis: Andy Murray het moontlik in sy laaste Aussie-ope gespeel na sy nederlaag in die eerste ronde
# Die Departement van Gesondheid in Tshwane sê hy is op ‘n hoë gereedsheidsvlak vir ‘n moontlike uitbreking van cholera met inwoners wat terugkeer uit alle dele van die land en die buurlande. Met fabrieke en skole wat heropen het die departement voorkomende maatreëls en gesondheidsopvoedings-maatreëls ingestel. Hoewel geen gevalle tot nog toe in Tshwane aangemeld is nie, word inwoners gemaan om waaksaam te wees teen simptome soos waterige diarree, braking en spierkrampe. Die burgemeesterskomiteelid vir Gesondheid, Rina Marx, sê uitbraak-reaksiespanne is gereed om vinnig op te tree:
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap doen ‘n dringende beroep op inwoners om nie skulpvis uit die see te eet nie. Dit volg nadat rooigety aan die kus van die Tuinroete opgemerk is, van Stormsriviermond, Plettenbergbaai, die Swartvleistrand, Kleinkrantz, Wildernis en Glentana tot by Mosselbaai. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Debra Sauer, sê rooigety is ‘n natuurlike verskynsel in kusgebiede en ontstaan wanneer mikroskopies klein alge dig saampak. Sy sê die verskynsel van rooigety sal na verwagting etlike dae duur:
# China sê hy is streng gekant teen enige amptelike gesprekke tussen Amerika en Taiwan, met die eiland se verkose president, Lai Ching-te, wat ‘n Amerikaanse afvaardiging verwelkom het na sy verkiesingsoorwinning. Die VSA hou nie-amptelike verhoudings vol met Taiwan, wat China as sy grondgebied beskou, en bly sy belangrikste ondersteuner en wapenverskaffer. Reuters berig China se woordvoerder oor Buitelandse Sake, Mao Ning, het aan die media gesê China verwerp vasbeslote Amerika se inmenging in Taiwan se sake op enige manier en onder enige voorwendsel.
# Tennis: Die voormalige wêreld nommer een, Andy Murray, sê hy het heelwaarskynlik in sy laaste Australiese Ope gespeel. Die Skot is vandag in Melbourne in skoon stelle uitgeskakel deur Tomas Martin Etcheverry van Argentinië, en het met 4-6, 2-6, 2-6 verloor. Die 36-jarige Murray het tussen 2012 en 2016 twee Grand Slam-toernooie gewen, maar ‘n reeks beserings het van toe af sy loopbaan gepootjie. Die 24-jarige Etcheverry sê Murray is een van sy helde, en dit was baie moeilik om teen ‘n legende soos hy te speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-610-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-52-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-36-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand, Chris Desmond, sê die behoeftes van Suid-Afrikaanse kinders is nie hiërargies nie en daar word die beste daaraan voldoen deur en in gesinne. Hy sê hoewel basiese behoeftes soos voedsel, beskutting, gesondheid en opvoedkundige dienste alles belangrik is, is alle behoeftes belangrik, onmiddellik en onderling verbind met mekaar. Hy voeg by maatskaplike dienste is van kritieke belang, want dit kan intensiewe ingrypings moontlik maak. Desmond pleit by die regering om die werksmag van maatskaplike dienste te versterk om wanfunksionele gesinne te ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….