Nuus 16:00
BULLETIN 2 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Weermag gaan saam met Rusland en China militêre oefeninge doen tydens die G20-beraad
# De Lille bevestig voortdurende mislukkings in bestuur het gelei tot die ontbinding van die SA Toerismeraad
# En Israel verskerp sy militêre opbou om Gaza-stad oor te neem
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gaan in November voort met gesamentlike Vlootoefeninge met Rusland en China, wat met die G20-beraad sal saamval. Volgens News24 sal die oefeninge in die Wes-Kaap plaasvind en waarskynlik meer spanning met Amerika veroorsaak, wat onlangs sy laaste militêre oefening met Suid-Afrika gekanselleer het. Die Weermag voer aan die oefeninge is deel van ‘n gebalanseerde buitelandse beleid, maar die tydsberekening laat hernude vrae ontstaan oor Suid-Afrika se bewering van neutraliteit in globale sake.
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, geprys nadat 121 politieke moorddossiere terugbesorg is aan die KwaZulu-Natalse-taakspan om ondersoeke te bespoedig. Die vakbond glo die eenheid beskik oor die kundigheid om vinnige geregtigheid te lewer in gevalle waar vordering maande lank gesloer het. Claude Naiker van die vakbond waarsku die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en president Cyril Ramaphosa teen inmenging, omdat vertragings die pyn van slagoffers se gesinne vererger:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê sy het die Suid-Afrikaanse Toerismeraad ontbind ná ‘n verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid oor onreëlmatige uitgawes, insluitend die mislukte Tottenham Hotspur-borgskap. De Lille het die Parlement se portefeuljekomitee oor Toerisme toegespreek en bewerings van politieke inmenging en korrupsie verwerp. Sy hou vol haar optrede was binne die bepalings van die Grondwet. De Lille het voortdurende mislukkings in bestuur onthul, insluitend oormatige raadsvergaderings, ‘n gebrek aan ‘n permanente finansiële hoof en onregmatige besluite:
Nuus uit die buiteland:
# Israel het sy militêre opbou verskerp met reserviste wat reageer op oproepbevele voor ‘n beplande aanval om Gaza-stad te verower, byna twee jaar na die begin van die verwoestende oorlog. Ondanks toenemende druk tuis en in die buiteland om sy veldtog te beëindig, maak Israel gereed om Gaza se grootste stad oor te neem. Hy het bomaanvalle verskerp en tree die afgelope dae in die buitewyke op. Die Weermag sê hy het logistieke en operasionele voorbereidings uitgevoer voor uitgebreide gevegte en die grootskaalse mobilisering van reserviste.
# Sokker: Orlando Pirates se ondersteuners vra die terugkeer van die voormalige afrigter, José Riveiro, as tegniese direkteur nadat die Egiptiese span Al Ahly hom afgedank het. Riveiro, wat Pirates in Mei verlaat het, is na vier wedstryde in die pad gesteek, met die laaste nederlaag van 2- 0 teen Pyramids. Sy driejaar-tydperk by Pirates het drie MTN8-titels, twee Nedbankbekers en ‘n Afrikabekerliga-halfeindstryd aan sy span besorg, wat sy legendariese status onder aanhangers bevestig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-536-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-490-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….