Nuus 16:00
BULLETIN 29 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê die moordsyfer in Suid-Afrika is byna vier keer hoër as wêreldwye terreursterftes
# COSATU verwelkom die hofuitspraak wat die Wet op Gelyke Indiensneming handhaaf
# En rugby: Hulpafrigter Tony Brown beskou die toets op Edenpark as die Bokke se grootste sedert die Wêreldbekertoernooi
# Action Society sê die moordsyfer in Suid-Afrika is tans hoër as die sterftes deur wêreldwye terrorisme. Die burgerregtegroep sê verlede jaar is meer as 26-duisend mense vermoor, byna vier keer meer as die dodetal weens wêreldwye terreur. Juanita du Preez van Action Society waarsku geweldsmisdaad het in die afgelope dekade gestyg en meer as 250-duisend-lewens geëis. Du Preez vra alle Suid-Afrikaners om verandering te eis deur sy ‘dekade van agteruitgang’-veldtog:
# Cosatu het die Hooggeregshof in Pretoria geloof omdat hy die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika en Sakeliga se aansoek teen die Wet op Gelyke Indiensneming verwerp het. Matthew Parks van Cosatu sê dit bevestig die minister van Indiensneming en Arbeid se gesag om sektorale teikens te stel, wat billike geleenthede vir alle werkers verseker, ongeag ras, geslag of gestremdheid. Parks beklemtoon gelyke indiensneming bevorder insluiting en transformasie:
# Eskom verwelkom die vonnisoplegging van die verskaffer Jessie Kubheka in die Middelburgse Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Mpumalanga. Kubheka is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en vier jaar vir geldwassery. Albei vonnisse is opgeskort vir vyf jaar. Kubheka is ook gelas om meer as twee-miljoen-rand terug te betaal. Die Tutuka-kragstasiesaak van 2020 het buitensporige fakture vir houers behels wat nie aan spesifikasies voldoen het nie. Eskom het sy benadering van geen verdraagsaamheid teen korrupsie beklemtoon en gaan voort om bates deur sy Groepondersoeke- en Sekerheids-afdeling te beskerm.
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte, SAHPRA, het die Cobas MPXV-toets vir M-pokke goedgekeur na ‘n blitsige nege dae lange hersiening met behulp van die Afrika-medisyne regulatoriese harmoniseringsproses. Die goedkeuring, wat ook staatgemaak het op die Wêreldgesondheidsorganisasie se noodgebruikslys, vergroot Suid-Afrika se diagnostiese kapasiteit vir vroeë opsporing en tydige behandeling, asook die voorkoming van die virus se verspreiding. ‘n SAHPRA-woordvoerder Yuven Gounden sê die proses is ‘n mylpaal in streeks- en kontinentale regulatoriese harmonisering van mediese toestelle.
# Rugby: Die Springbokke se hulpafrigter, Tony Brown, beskou volgende Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Auckland as Suid-Afrika se grootste sedert hulle Wêreldbeker-oorwinning in 2023. Nieu-Seeland het sedert 1994 nog nie op Edenpark verloor nie, terwyl die Bokke in 1937 laas daar kon wen. Suid-Afrika het die Kiwi’s in hul laaste vier ontmoetings verslaan, insluitend die Wêreldbeker-eindstryd en twee keer verlede jaar. Brown sê die Bokke is opgewonde terwyl die All Blacks desperaat is vir ‘n oorwinning, en hy verwag ‘n reuse-stryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-320-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-408-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….