Nuus 16:00
BULLETIN 28 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisieman van Brakpan vermoor sy vrou en wond sy familie voor hy homself skiet
# ‘n Voormalige Johannesburgse onderwyseres word skuldig bevind aan die verkragting en moord van haar kêrel se jong dogtertjie
# En Suid-Afrika se eerste robot-operasie op ‘n nierskenker word in die Tygerberg-hospitaal uitgevoer
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek ‘n voorval in Brakpan, Gauteng, waar ‘n polisieman na bewering sy vrou doodgeskiet en haar ma, twee kinders en ‘n huiswerker beseer het voor hy sy eie lewe geneem het. Die voorval het skynbaar gebeur na ‘n rusie, terwyl ‘n beskermingsbevel vroeër teen die polisieman uitgereik is. OPOD se woordvoerder, Lizzy Suping, sê hy het gevlug en is later opgespoor in Secunda, Mpumalanga, waar hy homself geskiet het:
# ‘n Voormalige kleuterskoolonderwyseres van Johannesburg is skuldig bevind aan die verkragting en moord op haar kêrel se vierjarige dogtertjie. Die plaaslike Hooggeregshof het bevind Amber Lee Hughes het Nada-Jane Challita in Januarie 2023 in haar pa, Elie, se huis in Glenvista seksueel aangerand en in die bad verdrink. Hughes het na die kleuter omgesien terwyl haar pa uitstedig was nadat hulle rusie gemaak het. Hughes het onlangs haar pleit op die moordaanklag na skuldig verander, maar ontken dat sy Nada-Jane verkrag het.
# Die Uitvoerkredietversekerings-korporasie van Suid-Afrika gaan die Luxemburg Spoorprotokol in die kollig plaas op die konferensie van die Suider-Afrikaanse Spoorwegvereniging. Die protokol verskaf ‘n geharmoniseerde wetsraamwerk vir spoorwegfinansiering, verlaagde lener-risiko en laer finansieringskoste. Bemarkingshoof Ismail Carr sê die korporasie gaan tot ‘n 20-persent afslag op sy premies vir treine en waens verskaf wat aan die wetlike vereistes voldoen, plaaslike vervaardigers ondersteun en Afrika se spoorweghandel ‘n hupstoot gee.
# Gholf: Die jong Australiër Jeffrey Guan is terug in die beroepspel byna ‘n jaar nadat hy die sig in sy linkeroog verloor het in ‘n fratsongeluk. ‘n Bal het die 21-jarige op die oog getref tydens ‘n toernooi in Sydney – slegs ‘n week na sy buiging op die Amerikaanse PGA-toer. Die tweemalige Australiese junior amateur-kampioen het vanoggend sy belofte gestand gedoen om terug te keer toe hy afgeslaan het in die PGA-kampioenskap in Palmerston, met ‘n ronde van 74. Guan sê dit was ‘n wonderlike gevoel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-903-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-407-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Uroloog van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, Danelo du Plessis, het Suid-Afrika se eerste robotiese skenker-nefrektomie suksesvol uitgevoer in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad. Du Plessis het die Da Vinci Xi-robotstelsel gebruik om ‘n gesonde nier van ‘n 45-jarige ma vir haar 24-jarige dogter te verwyder. Dit beteken ‘n groot sprong vir pasiëntesorg en chirurgiese vernuwing. Du Plessis sê die minimaal- indringende chirurgie verminder die hersteltyd en die skenker is die volgende dag ontslaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….