Nuus 16:00
BULLETIN 25 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee mans word doodgeskiet voor ‘n Kaapstadse polisiekantoor
# Die minister van Toerisme en die privaat sektor stuur ‘n uitvoeringslaboratorium van stapel
# En minstens 15 mense sterf in Israelse lugaanvalle op ‘n hospitaal in Gaza
# Twee mans is vandag buite die Mitchell’s Plain-polisiekantoor in Kaapstad doodgeskiet. Owerhede maan die publiek om die omgewing te vermy terwyl ondersoeke voortduur. Videomateriaal wys die twee slagoffers se liggame wat voor die gebou lê. Die omstandighede rondom die voorval bly onbekend en dit is nog nie seker of enigiemand aangekeer is nie. Die voorval volg nadat verskeie gemeenskappe in Kaapstad die naweek geruk is deur dodelike vuurwapengeweld waarin vyf mense dood is.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die nuwe toerisme-uitvoeringslaboratorium is ‘n gesamentlike poging tussen die regering en die privaat sektor om teen 2030 15-miljoen besoekers te lok, werkskepping te bevorder en toerisme se bruto binnelandse produkbydrae ‘n hupstoot te gee. De Lille het in Kemptonpark, Gauteng, aangekondig die elektroniese reismagtigingstelsel sal volgende maand in werking tree, lugtoegang verbeter en produkte uitbrei om vanaf erfenis- en township-ervarings tot welstands-toerisme te dek:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 15 mense is dood in Israelse lugaanvalle op ‘n hospitaal in die suide van Gaza. Die Hamas-beheerde Ministerie van Gesondheid het in ‘n sosiale media-plasing gesê daar was twee aanvalle. Die eerste het die vierde verdieping van die Nasser-hospitaal geteiken en die tweede terwyl ambulanspersoneel probeer het om beseerdes te red en liggame te vind. Al Jazeera het bevestig sy kameraman, Mohammed Salama, is onder minstens drie joernaliste wat in die aanval dood is. Palestynse gesondheidsbeamptes sê een van die joernaliste het vir die nuusagentskap Reuters gewerk.
# Tennis: Die tweestryd tussen die Italianer Jannik Sinner en die Spanjaard Carlos Alcaraz word al feller en Sinner moet Alcaraz op die Amerikaanse Ope verslaan om sy nommer-een-posisie in die wêreld te behou. Hulle het die laaste sewe Grand Slam-toernooie gewen en is nou die Groot Twee van die nuwe geslag. Sinner het baie ranglyspunte verloor toe hy moes onttrek aan die eindstryd van die Cincinnatti Ope teen Alcaraz. Hulle speel albei môre hulle eerste wedstryde op Flushing Meadows in New York en kan slegs in die eindstryd ontmoet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-538-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-368-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-57-sent per vat.
# En laastens, die 2025 Chenin Blanc-uitdaging se toptien-wenners is aangekondig en word later vanjaar op ProWine Shanghai in China vertoon. Stellenbosch oorheers weer en spog met vier van die tien inskrywings. Boonop is drie van die vier van Stellenrust Wines, wat die gereeldste wenners in die kompetisie is. Standard Bank, wat die kompetisie borg, se hoof van landbou-sake, Brendan Jacobs, sê 80-persent van alle chenin-wingerde in die wêreld is in Suid-Afrika en Frankryk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….