Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hamas se gruweldade gee Israel die reg om homself te beskerm
# Israel gee Hamas die skuld vir burgerlike ongevalle
# En, tennis: Suid-Afrikaner Lloyd Harris kwalifiseer vir die Australiese Ope
# Die internasionale regskenner Malcolm Shaw sê om Israel se optrede in Gaza te verstaan, moet Hamas se aanval van 7 Oktober in ag geneem word. Hy het die land se verdediging gelei teen Suid-Afrika se aanklag van volksmoord voor die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland. Shaw erken Hamas se aanslag gee Israel nie die reg om internasionale reg te skend nie, maar betoog dit magtig wel die land om homself te beskerm ingevolge humanitêre reg. Hy bestempel volksmoord-aanklagte as die toonbeeld van boosheid en waarsku dit kan sy belang verloor indien dit verkeerd aangevoer word:
Israel se ministerie van Justisie sê Hamas het die land onregverderig beskuldig van gruweldade in Gaza. Israel weerlê Suid-Afrika se aanklag van volksmoord nadat beskuldigings van die skending van die Volksmoord-konvensie van 1948. Israel se regsverteenwoordiger, Galit Raguan, het beeldmateriaal vertoon, insluitend van Hamas wat skole en hospitale gebruik. Sy beweer Hamas gebruik gereeld burgerlike terreine om vuurpyle af te vuur:
# Die Durbanse hawe se Houerterminaal-2 het die afgelope paar weke ‘n gemiddeld van enkel-syfer vaartuie gehad wat voor anker lê. Die uitvoerende hoof, Earle Peters, skryf dit toe aan samewerkingspogings met skeepsrederye, vrag-eienaars en werknemersverbintenisse wat ononderbroke bedrywighede verseker. Peters het ook bevestig vervaardigers van oorspronklike toerusting bied deurlopend tegniese ondersteuning, wat belangrike onderdele bied vir herstelwerk aan toerusting. Ondanks weer-ontwrigtins, verseker Peters gebeurlikheidsplanne is ingestel om die druk te verlig op kliënte wat van die terminaal se dienste afhanklik is.
# Griekeland gaan selfdegeslag-huwelike en aanneming goedkeur. Eerste minister, Kyriakos Mitsotakis, het die besluit vandeesweek aangekondig en verklaar selfdegeslag-huwelike sal burgerlike verbintenisse wees en sal nie in kerke plaasvind nie. Hy het benadruk die wetsontwerp sal nie bestaande bystandsvoortplantingsreëls wysig nie en sal surrogaat-ouerskap beperk tot enkelvroue en heteroseksuele paartjies. Volgens Mitsotakis is dit ‘n betekenisvolle stap vorentoe om inklusiwiteit en gelyke regte in Griekeland te bevorder.
# Tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika het deurgedring na die hooftrekking van die Australiese Ope toe hy sy derde kwalifiseringswedstryd gewen het. Hy het Hugo Gaston van Frankryk vanoggend verslaan en kom Sondag in Melbourne in die eerste ronde te staan teen nog ‘n Fransman, Quentin Halys. Harris het sy hoogste ranglysposisie van 31ste in September 2021 behaal, maar verskeie beserings het hom laat terugsak tot sy huidige posisie van 149. Sy beste Grand Slam-prestasie was in die Amerikaanse Ope van 2021 toe hy die kwarteindronde gehaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-41-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-48-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….