Nuus 16:00
BULLETIN 4 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra vir hervorming van wêreldwye bestuursinstellings te midde van geopolitiese spanning
# Mashatile loof Mabuza as ‘n man wat eenheid voorgestaan het
# En, Rugby: Jake White verlaat die Bulle onmiddellik
# President Cyril Ramaphosa sê wêreldwye bestuursinstellings, insluitend die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, moet dringend hervorm word om die verhoogde geopolitiese spanning en wêreldonsekerhede aan te spreek. Tydens die besoek van die Oostenrykse president, Alexander van der Bellen by die Uniegebou in Pretoria, het Ramaphosa gesê die huidige konflikte en onstabiliteit in baie dele van die wêreld, beklemtoon die behoefte aan sterker multilateralisme. Hy het bygevoeg dat regverdige en inklusiewe wêreldstelsels die sleutel tot langdurige vrede en ontwikkeling is:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het voormalige adjunkpresident, David Mabuza, beskryf as ‘n leier wat eenheid voorgestaan het. Mabuza is gister oorlede nadat hy asemhalingsprobleme ondervind het. Hy was adjunkpresident van 2018 tot 2023. Mabuza se gesondheid het gedurende sy ampstermyn die aandag getrek toe hy met ‘n besoek aan Rusland mediese behandeling ontvang het. Mashatile het buite Mabuza se Bryanston-woning, Suid-Afrikaners aangemoedig om sy nalatenskap van eenheid en toegewyde leierskap te vereer:
In ‘n verdere hupldeblyk aan voormalige adjunk-president, David Mabuza, het die EFF gesê Mabuza was ‘n veteraan van die vryheidstryd wat lank in diens van die mense gestaan het, en hy het nooit persoonlike ambisie bo sy amptelike plig geplaas nie. Die 64-jarige Mabuza is Donderdag na ‘n kort skiete in ‘n hospitaal in Mpumalanga oorlede. Die EFF sê hy eer Mabuza nie net vir die posisies wat hy beklee het nie, maar as deel van ‘n generasie swart Suid-Afrikaners wat ‘n gewelddadige regime teengestaan het.
# Intelligensie-agentskappe van Nederland en Duitsland het bewyse ingesamel oor Rusland se wydverspreide gebruik van verbode chemiese wapens in Oekraïne. Hommeltuie met giftige gas word gebruik om soldate in loopgrawe uit te dryf sodat hulle geskiet kan word. Die Nederlandse minister van Verdediging, Ruben Brekelmans, versoek strenger sanksies teen Moskou. Brekelmans het aan Reuters gesê die gevolgtrekking is dat hulle kan bevestig dat Rusland sy gebruik van chemiese wapens verskerp. Duitsland se buitelandse intelligensie-agentskap het die bevindings bevestig en sê in ‘n verklaring hy en sy Nederlandse eweknieë het die bewyse verkry.
# Rugby: Die Bulle se afrigter en die Direkteur van Rugby, Jake White, het wedersyds ooreengekom dat hy onmiddellik die franchise sal verlaat. White het hom in 2020 by die span aangesluit, en die Bulle na drie Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryde gelei asook die uitkloprondes van die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker. Onlangse berigte lui senior spelers en White se hulpafrigters was ontevrede oor sy optrede. White het Bulle-ondersteuners bedank en gesê dit was wonderlik om deel van ‘n wenkultuur te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-895-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….